VREDENBURG – ’n Groot poging van omgee en gemeenskapsbetrokkenheid het onlangs gelei tot ’n suksesvolle fondsinsamelingsprojek ten bate van Huis Wittekruin.
Dr Eugene Moore en sy broer, Rian Moore, is al vir ongeveer 15 jaar betrokke by die maak en skenking van kos vir die projek. Hulle skenk al die bestanddele en doen die voorbereiding uit hul eie.
Die span het vroegoggend begin werk. Hulle het omstreeks 02:15 opgestaan en net ná 03:00 by die perseel aangekom. Teen ongeveer 03:45 is die vure aangesteek, die potte gewas en die voorbereiding het begin.

Vir elke pot is ongeveer gebruik:
- 37 kg vleis
- 2 sakke aartappels
- 1 sak uie
- 10 kg botterskorsie
- 10 kg gesnipperde wortels
- 9 kg gevriesde ertjies.
Die uitskep van die kos het omstreeks 11:20 begin en teen 14:00 was die span klaar.
Die projek was ’n groot sukses met 1041 bakkies kos wat verkoop is.
Karin Delport, bestuurder van Huis Wittekruin, het groot waardering uitgespreek vir dr. Eugene Moore en Rian Moore se jarelange ondersteuning en omgee. Hulle bydrae maak ’n wesenlike verskil in die gemeenskap.

“’n Spesiale woord van dank gaan ook aan al die vrywilligers wat gehelp het. Sonder hul ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het om die groot hoeveelheid bakkies gereed te kry nie.
“Baie dankie ook aan al die ondersteuners wat gekoop en bygedra het tot die sukses van die dag,” voeg sy by.




You must be logged in to post a comment.