Huis Wittekruin se jaarlikse wynveiling word op Vrydag 11 September aangebied en beloof weer ‘n geleentheid vol goeie wyn en ondersteuning vir ‘n belangrike plaaslike saak.
Die wynveiling is ‘n belangrike geldinsamelingsgeleentheid vir Huis Wittekruin, wat reeds sedert 1973 ‘n tuiste aan bejaarde inwoners bied. Die tehuis is ‘n program van die bekende Badisa-organisasie en bied veilige residensiële en bekostigbare sorg met die doel om die optimale lewensgehalte van sy inwoners te bevorder.
Gaste kan uitsien na ‘n verskeidenheid wyne wat op die veiling aangebied word.
Onder die wyne is onder meer Nuy se Rooi Muskadel, Le Roux & Fourie Pinotage, Bellpost se Shiraz en wyne van Ernie Els Wines, om maar ‘n paar te noem.
Volgens Karin Delport, bestuurder, is wyne van oor die Wes-Kaap heen vir die geleentheid geskenk.
“Die wynveiling se opbrengs gaan gebruik word vir die modernisering van die kombuis en gange,” het Delport gesê. Die geld wat ingesamel word, is van groot waarde vir die tehuis en sy sowat 150 inwoners, aangesien dit help om nodige verbeterings aan die fasiliteit aan te bring en die leefomgewing van inwoners te verbeter.
Die gemeenskap word aangemoedig om die geleentheid te ondersteun en terselfdertyd ‘n aand van goeie wyn en geselligheid te geniet.
Kaartjies kos R200 per persoon en is by die kantoor van Huis Wittekruin beskikbaar. Bel die tehuis by 022 713 2230/9 vir meer inligting.




