Die Saldanha-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se sakeforum het die afgelope Dinsdag (11 Augustus) ‘n lae opkoms van sake-eienaars gehad, wat kommer onder die organiseerders wek.
Corrin Cleophas, voorsitter van die Saldanha GPF, sê sy hoop om in die toekoms meer sake-eienaars by die forum se vergaderings te sien. “Ons wil graag meer sake-eienaars hier hê. Ek glo die getalle sal mettertyd optel,” sê Cleophas.
Lt.-kol. Kim Whitton, bevelvoerder van die Saldanha-polisie, het tydens die vergadering onder meer die uitdaging van die onderhoud aan polisievoertuie geopper.
Volgens die polisie se analise van misdaadinligting het ses inbrake sedert Maandag 1 Junie in Saldanha se sentrale sakekern plaasgevind. Die voorvalle het hoofsaaklik tussen 22:00 en 04:00 in die nag plaasgevind, wanneer oortreders voordeel uit die stiller ure trek.
Daar is volgens Whitton ‘n konsekwente werkswyse onder oortreders, met spesifieke persele wat geteiken word. Motorhuisdeure en ander deure word oopgeforseer en toegang daarna relatief maklik verkry. Draagbare en maklik toeganklike items word veral geteiken. Sy het ook gesê dat skole geteiken word en dat patrollies in die sentrale sakekern verhoog moet word.
Sy het sake-eienaars gemaan om, ondanks die huidige ekonomiese druk en die koste van sekuriteitsmaatreëls, steeds in hul veiligheid te belê.
“Ons verstaan dat dinge duur is in hierdie ekonomie, maar besighede moet probeer om hul persele te beveilig sodat hulle nie verdere verliese ly nie,” sê sy.





