Lede van die Paternoster-gemeenskap het verlede Dinsdagaand (18 Augustus) geen doekies omgedraai nie toe hulle hul frustrasie met misdaad en onveiligheid op ‘n vergadering van die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die Paternoster-gemeenskapsaal uitgespreek het.
Dié vissersdorpie, bekend vir sy kalk- huisies en toerisme, word toenemend geteister deur bendegeweld, dwelmhandel, inbrake en diefstal uit motors – veral oor naweke in die vroeë oggendure.
Gemeenskapslede het beskryf hoe jeugbendes soos die “Blood Hunters”, “Jamaicans” en die “Skotties” van Vredenburg na Paternoster “oorspoel” en hul terrein met graffiti merk. Dwelmhuise en handelaars is volgens inwoners almal aan die gemeenskap én die polisie bekend.
“Twee moorde het oor die naweek plaasgevind,” het kol. Lindie Marx, stasiebevelvoeder van die Vredenburg-polisie, bevestig. “Daar was ook pogings tot moord, ernstige aanrandings, maar die meerderheid van hierdie geweld het in Hopland gebeur en was bendeverwant.”
Veral kommerwekkend is die betrokkenheid van jong misdadigers, tussen 13 en 17 jaar oud, wat kinders by skole intimideer. Daar is selfs berigte van messe wat op die skoolterrein uitgehaal word.
Kol. Marx het verduidelik dat terwyl geweldsmisdade hoofsaaklik in Hopland
plaasvind, word eiendomsverwante misdade – soos diefstal uit motors en huisbrake – oorwegend in Paternoster se middedorp gepleeg. “Altesaam 99% van hierdie misdrywe vind in die dorp plaas, hoofsaaklik oor naweke tussen middernag en 06:00 die oggend. Die twee strate wat uitstaan vir diefstal uit motorvoertuie is Strandloper- en St. Augustine-straat, waar baie van hierdie insidente gebeur. Dit is ook waar ons gastehuise en vakansie-akkommodasies is – die meeste slagoffers is toeriste.”
Die misdaad tref toerisme besonder hard. Gemeenskapslede het vertel besoekers wil nie sake aanhangig maak nie omdat hulle nie bereid is om herhaaldelik van Gauteng of elders af te reis vir hofsake nie.
Die gemeenskap het gekla dat polisie se reaksietye te lank is en dat polisiemanne- krag en voertuie onvoldoende is. “Wanneer ons bel, word polisie elders benodig – Vredenburg of Saldanha toe. Ons voel kwesbaar en alleen,” sê ‘n inwoner.
Die dorpie se kamerastelsel, voorheen suksesvol, word nie meer deur die munisipaliteit gemonitor nie en is buite werking.
Kol. Marx het bevestig daar is inhegtenisnemings vir dwelms en onwettige immigrante – ongeveer 15 onwettige immigrante is onlangs toegesluit.
Daar was ook aksies teen onwettige drankhandel in Hopland.
Sy het egter die beperkings van haar eenheid beklemtoon: ‘n gebrek aan voertuie, begrotingsdruk, lang hofprosesse en forensiese vertragings wat veroorsaak dat inhegtenisnemings soms tot niks lei nie. Sy het ook verduidelik dat sy haar polisiepatrollies digitaal monitor om te verseker hulle werk in die sogenaamde hotspot-ge- biede. Sy het erken dat ontoereikende hulpbronne die polisie se werkinge kniehalter.
Munisipaliteit belowe ondersteuning
Die burgemeester, Marius Koen, het verduidelik dat die munisipaliteit probeer help deur afgeskryfde toerusting – soos rekenaars en voertuie – aan die polisie te gee. Hy het ook aangekondig dat ‘n munisipale hof teen die einde van vanjaar oop- gemaak word, ná jare se pogings. “Dit sal ‘n totale omswaai wees. Dan kan ons mense verantwoordelik hou vir onwettige storting, kragdiefstal en oortredings.”
Inwoners het ‘n beroep gedoen op meer gereelde patrolering, die herstel van die kamerastelsel, beter samewerking met buurtwagte en vinniger polisie-optrede. Hulle het ook gevra vir jeugntervensieprogramme en ‘n geïntegreerde benadering wat polisie, skole, sosiale ontwikkeling, kerke en die vissery-sektor insluit.
Freddie Smoek, voorsitter van die Vredenburg-GPF, het gemeenskapslede aangemoedig om inligting te deel.
“Ons is ‘n klein, hegte gemeenskap,” het ‘n inwoner gesê. “Maar ons is bang vir hierdie bendes wat ons dorp oorspoel.”





