Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Poging tot moord: In Hopefield word ‘n saak ná ‘n insident op Vrydag 7 Augustus ondersoek. Volgens die 33-jarige klaer het sy omstreeks 09:00 ‘n saamrygeleentheid saam met ‘n man geklee in ‘n wit T-hemp en jeans gekry. Hy het ‘n ligte afleweringsvoertuig bestuur. Op pad na Langebaanweg het die man probeer om aan die klaer se privaatdele te vat. Sy het egter daarteen gekeer, waarop die man die passasierskant se deur oopgemaak en haar uit die bewegende voertuig gestamp het. Die klaer het mediese behandeling ontvang en kon eers later die saak aanmeld.
Opsetlike saakbeskadiging: Vier voorvalle op Saterdag en Sondag, 15-16 Augustus, is in Laaiplek aangemeld. In die eerste geval is daar tussen Saterdagaand 15 Augustus om 20:15 en Sondag 16 Augustus om 13:00 skade aan ‘n 64-jarige man se voertuig in Piet Orlamstraat aangerig. Om middernag is ‘n ander voertuig se vensters in dieselfde straat stukkend gegooi. Om 01:00 op Sondag 16 Augustus is die ruit van ‘n voertuig se sonkap in Aristeastraat in Noord- hoek gebreek. In die vierde geval, in dieselfde straat, is ‘n vrou beseer toe twee mans klippe na haar woning gegooi en haar rondgestamp het.
Huisroof: Nicolaas Maasdorp (37) en Macniel Maarman (35) het Maandag 17 Augustus in die Vredenburg-landdroshof verskyn op ‘n klag van huisroof nadat hulle op Vrydagmiddag 14 Augustus ‘n bejaarde egpaar in Witteklipstraat in Tierkloof in Vredenburg aangeval het. Dié twee rowers het ‘n venster gebreek en toegang tot die huis gekry en die man en vrou met messe gedreig en met ‘n selfoon en juwele gevlug. Albei is oomblikke daarna in dieselfde omgewing in hegtenis geneem. Die vrou het een van die rowers se hand gebyt en die man se skouer is beseer.
Diefstal: Andre Adonis (43) en William Boois (47) is Sondagmiddag 16 Augustus in Duikerstraat in Moorreesburg aangekeer met bou- gereedskap wat hulle probeer verkoop het. Die goedere is tussen Saterdagnag en Sondagoggend 15 en 16 Augustus uit ‘n stoorkamer in die dorp gesteel. Hul gesamentlike hofverskyning was op Maandag 17 Augustus.
Diefstal: Vier mans het na bewering op Saterdag 15 Augustus vroegaand diesel in Hoofstraat in Vredenburg probeer steel. ‘n Houer op hul bakkie is met diesel gevul. Die petroljoggies het onraad vermoed toe elke bankkaart wat die mans vir hulle gegee het, ongeldig was. Die mans het daarop weggehardloop en daar is op die voertuig beslag gelê.



