Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Moord: Hester Engelbrecht het op Woensdag 5 Augustus in die Hopefield-landdroshof verskyn nadat sy vir die tweede keer van moord aangekla is.
Strafbare manslag: Die 35-jarige Masibulele Dayimani is Donderdagoggend (6 Augustus) op slag dood in ‘n botsing op die Riebeek-pad. Hy het na bewering ‘n u-draai gemaak toe hy teen ‘n aankomende vragmotor met plaaswerkers gebots het.
Oortredings in Vrouemaand
Aanranding: ‘n 26-jarige vrou van Eendekuil het na bewering haar 50-jarige tannie, wat gelê en slaap het, met kookwater gegooi.
Openbare dronkenskap: ‘n 49-jarige vrou is helder oordag in Nuwerus aangekeer nadat sy glo dronk op straat was en moeilikheid gemaak het.
Opsetlike saakbeskadiging: ‘n Saak is in Elandsbaai geopen nadat ‘n klaagster se niggie na bewering haar voordeur oopgeskop het.
Diefstal: ‘n 26-jarige man van Vredenburg het ‘n eis teen die Padongelukkefonds ingedien. Nadat hy ‘n prokureur genader het om die saak te hanteer, is R212,92 in 2020 aan hom uitbetaal. In 2021 is ‘n verdere eis ingedien, waarna ‘n vroulike prokureur hom glo meegedeel het dat R342 492 binne ses maande uitbetaal sou word. Die prokureur en die geld het egter daarna glo verdwyn.
Belediging: Twee mans is in Doringbaai aangekeer nadat hulle na bewering ‘n vroulike beampte van die departement van visserye, bosbou en die omgewing gevloek het terwyl sy haar werk gedoen het.
Oortreding van beskermingsbevel: ‘n 60-jarige vrou van Hopefield het weer ‘n saak teen haar seun aanhangig gemaak nadat hy na bewering ‘n beskermingsbevel oortree het.
Aanranding: ‘n 28-jarige vrou van Lambertsbaai is na bewering deur haar kêrel gewurg en met ‘n besemstok oor haar bene geslaan. Hy het haar glo ook aan die borste gebyt en met die dood gedreig.
Bedrog: ‘n Vrou van Laaiplek het glo geld verloor nadat sy ‘n skakel vir ‘n sogenaamde verkeersboete gevolg het, waarna geld uit haar rekening onttrek is.
Aanranding: ‘n 21-jarige werknemer in Vredenburg het ‘n saak teen haar werkgewer, wat ook ‘n vrou is, aanhangig gemaak nadat sy na bewering deur haar werkgewer aangerand en weggejaag is.
Aanranding: ‘n 25-jarige vrou van Malmesbury moes mediese behandeling ontvang nadat haar kêrel haar na bewering met kookwater gebrand het.




