Sukses op die rugbyveld begin by fiksheid. Foto’s: Clint Dirks

Vrouemaand met rugbykliniek vir skoolmeisies gevier


Die Weskus het die afgelope Saterdag (22 Augustus) geskiedenis gemaak deur die streek se eerste vrouerugbykliniek by die Transnet Saldanhastadion te hou. Jong meisies het opleiding deur onder andere Springbok Sewes-spelers gekry.

Altho+ Sports Management het die historiese gebeurtenis aangebied as deel van Vrouemaandvieringe, en meisies van vyf skole in die streek saamgebring vir ‘n oggend van rugby, mentorskap en bemagtiging.

Van 08:00 tot 12:00 het deelnemers van Diazville se hoër- en laerskool,

St. Andrews Primêr, die Laerskool Saldanha en Masiphathisane Primêr afrigting ontvang van ervare vroue-afrigters en die Springbok-sewesspelers Saadiqah Corbett en Leigh Fortuin.

Corbett se reis is veral inspirerend – sy het eers in 2023 begin rugby speel, is in 2024 vir die Wes-Provinsie o.18-span gekies, en is in 2025 na die Springbok Sewesspan opgeroep. Sy is steeds lid van die nasionale span en studeer regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar sy ook speel.

Jeanette Bailey, ambassadeur vir vrouerugby in Mitchell’s Plain in Kaapstad, het haar afrigtingservaring van byna ‘n dekade met die jong meisies gedeel. Bailey, wat sedert 2015 rugby in Mitchell’s Plain afrig, het laerskool-, hoërskool- en klubrugby afgerig en ses junior Springbokke uit Michell’s Plain voortgebring – waarvan twee tans self afrig en klubrugby speel.

Sy het onder meer bygedra tot Fortuin, Corbett en Leandi Smith se sukses.

Smith, tans hoofafrigter van die Mit- chell’s Plain Wes-Provinsie o.16-span, het ook by die Hoërskool Strandfontein seuns en meisies afgerig. Sy speel tans vir die Van de Stel-rugbyklub.

Vir Alfredo Barends, stigter en hoof van die Altho+ Sports Management-projek, is dit ‘n roeping wat hy by God gekry het. As oud-onderwyser in Diazville en Louwville wat tans in China ‘n soortgelyke jeugsportprogram aanbied, is die projek ‘n noodsaaklikheid om kinders van die strate af en weg van die bendes te kry. Hy wil hulle weer opgewonde oor sport, en rugby in die besonder, maak. “Dit gee hulle ‘n breër visie, om na meer as net hulle persoonlike, huislike omstandighede te kyk.”

Altho+ Sports Management fokus op toegang, mentorskap en geleenthede vir benadeelde jong atlete. Die organisasie verseker jong atlete ontvang behoorlike uitrusting, skoene, beskermende toerusting en mentorskap, terwyl dit ook lewensvaardighede, dissipline en geloofsgebaseerde waardes bevorder.

Ander afrigters by die vrouerugbykliniek was Jaydee Coetzee (agterlyn), Nicolus de Beer (voorspelers), Lylle Maart (krag en kondisionering).

Barends het gesê die vrouerugby- kliniek is ‘n besondere mylpaal.

“Dit gaan oor rugby, maar ook oor hoop, selfvertroue en om elke kind te wys dat hulle saak maak,” het hy gesê.

“In ons gemeenskappe is daar geen tekort aan talent nie – soms ontbreek net die regte geleentheid, leiding en onder- steuning.”

Saadiqah Corbett, Springbok-sewesspeler, wys hoe 'n bal gevang moet word.
Saadiqah Corbett, Springbok-sewesspeler, wys hoe ‘n bal gevang moet word.

Die vrouerugbykliniek volg op Altho+ se suksesvolle gratis rugbyklinieke vir seuns wat in Julie aangebied is.

Dié driedaagse inisiatief het jong atlete van Vredenburg, Saldanha en Laingville saamgebring vir gestruktureerde afrigtingsessies.

Daar is geoefen hoe om in 'n skrum te werk te gaan.
Daar is geoefen hoe om in ‘n skrum te werk te gaan.

Barends hoop om ‘n groep meisies op ‘n ontwikkelingspad te kan plaas om in die toekoms groot hoogtes in rugby te kan bereik.

Die meeste meisies wat deel van die afgelope naweek se kliniek was, het nog nooit aan ‘n rugbybal geraak nie, maar het die veld met ‘n nuwe passie en belangstelling verlaat.

Weskus-maatskappye wat belangstel om jeugontwikkeling deur sport te ondersteun, kan Barends by 073 338 6789 kontak.

Die afrigters en die span van Altho+
Die afrigters en die span van Altho+ is (voor van links) Leandi Smith,Jeanette Bailey, Saadiqah Corbett en Winston Albrecht. Agter staan Lylle Maart, Duwayne Vraagom, Alfredo Barends, Ivan Dwashu, Breyten Vlok en Jaydee Coetzee. Foto: Clint Dirks
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 August 2026
    Weslander E-Edition – 27 August 2026

Gift this article