Die Weskus is oor die naweek deur verskeie ernstige voorvalle van geweld getref, met verskeie mans wat hul lewens verloor het. Minstens vier mense is sedert Vrydag 21 Augustus in afsonderlike voorvalle dood, onder wie Lionel Kemp (57) van Witteklip, Vredenburg.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is Kamp Vrydagaand (21 Augustus) omstreeks 20:45 in Langstertjiestraat met steekwonde gevind. Hy het ook ‘n wond aan sy mond gehad en is op die toneel dood.
Die polisie het drie verdagtes in verband met sy dood in hegtenis geneem. Leiton Rooi (25), Jayden Pietersen (19) en Durian de Kock (18) het reeds in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Volgens Kemp se susterskind, Debbie Kemp, was Lionel op pad na haar huis, soos hy elke aand gedoen het, om sy bord kos te gaan haal.
Lionel het dit egter nooit tot by haar woning gemaak nie.
“Hy was op pad na my huis toe soos elke aand om sy kos te kom haal. Toe hy nie opdaag nie, het ek nie gedink iets het met hom gebeur nie. Die nuus van sy wrede moord het egter soos ‘n yskoue skok oor my gekom,” sê Debbie.
Vir Debbie is die moord op haar oom moeilik om te verwerk, omdat sy volgens haar geen rede sien waarom iemand hom van sy lewe sou ontneem nie. “Hy het altyd gelag, was ‘n nederige mens en het niemand kwaad aangedoen nie. Hy was altyd behulpsaam en was altyd gelukkig met wat hy gehad het,” sê sy.
Geweld neem toe
Veral die feit dat van die afgelope tyd se aanvalle deur jongmense gepleeg word, is volgens inwoners ‘n bitter pil om te sluk.
Volgens die gemeenskap gaan die bekommernis egter verder as die geweld van die afgelope naweek en is hul harte breek oor ‘n jong generasie wat toenemend met geweld en misdaad in aanraking kom.
Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsleier in Witteklip, sê inwoners weier om hoop te verloor ondanks die toenemende geweld in die gebied.
“Die grootste vrae wat ‘n mens jouself afvra, is of ons gemeenskap ooit ‘n veilige woonbuurt sal wees en of ons polisie en wetstoepassers ooit daarin sal slaag om die geweldsmisdaad waarmee ons daagliks te doen kry, hok te slaan,” sê hy.
Van Wyk sê die gemeenskap moet egter aan hoop vashou en glo dat dinge kan verander.
Hy meen werkskepping, sport, vaardigheidsontwikkeling, volhoubare buitemuurse aktiwiteite en positiewe rolmodelle is nodig om jongmense alternatiewe vir bendes en geweld te bied.
Hy doen ook ‘n beroep op ouers, kerke en maatskaplike werkers om meer betrokke te wees en jongmense ‘n veilige ruimte te bied waar hulle hul probleme kan bespreek en ondersteuning kan ontvang.
Kemp se dood was egter nie die enigste moord wat die Weskus die afgelope naweek geruk het nie.
In Saldanha is Graig Boois (26) se lewelose liggaam Vrydagoggend omstreeks 06:35 in Cogstraat gevind. Hy is in die rug geskiet en dit blyk dat hy op pad huis toe was toe hy geskiet is.
In hof verskyn
Later dieselfde aand, omstreeks 21:00, is Antonio Shichongue (22) op die hoek van Nacardienstraat in Witteklip met ‘n mes gesteek. Hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Shichongue het meswonde aan albei kante van sy nek opgedoen. Drie verdagtes het Maandag in die hof verskyn.
In Tsitsiratsitsi is Bruni Maseko (34) Sondagoggend omstreeks 03:00 doodgeskiet.
Volgens sy meisie het Maseko ‘n klop aan die deur gehoor en dit oopgemaak. Sy het slegs ‘n enkele skoot gehoor, waarna Maseko op die bank geval en gesterf het.
Die naweek is verder deur ‘n noodlottige ongeluk op die R366 tussen Piketberg en Redelinghuys ontsier.
David Present (52) is Sondagaand omstreeks 19:00 dood ná ‘n botsing reg van voor tussen sy Toyota Hilux en ‘n VW Polo.
Vir die families wat nou sonder hul geliefdes moet voortgaan, is dit egter meer as net syfers en misdaadstatistieke, dit is lewens wat verloor is en leë plekke wat nie weer gevul kan word nie.




