VREDENBURG – Huis Wittekruin se tiende jaarlikse wynveiling voorverlede Vrydag (11 September) was ‘n groot sukses, met sowat 100 gaste wat die aand bygewoon en 89 lotte wat onder die hamer gekom het.
Die veiling is deur die afslaer Tjaard Steyn behartig en het gaste die geleentheid gebied om ‘n verskeidenheid wyne te bekom, terwyl hulle ook ‘n belangrike plaaslike saak ondersteun het.
Die wynveiling is een van Huis Wittekruin se belangrikste geldinsamelingsgeleenthede. Die tehuis, wat reeds sedert 1973 ‘n tuiste aan bejaarde inwoners bied, is ‘n program van Badisa en voorsien veilige, bekostigbare residensiële sorg met die doel om die lewensgehalte van sy inwoners te bevorder.
Wyne wat vir die veiling geskenk is, het onder meer Nuy se Rooi Muskadel, Le Roux & Fourie Pinotage, Bellpost se Shiraz en wyne van Ernie Els Wines ingesluit.

Volgens Karin Buys, Huis Wittekruin- bestuurder, is wyne uit verskillende dele van die Wes-Kaap vir die geleentheid geskenk.
“Die opbrengs van vanjaar se veiling sal aangewend word vir die modernisering van die kombuis en gange by die tehuis. Die geld wat met die veiling ingesamel word, is van groot waarde vir Huis Wittekruin en sy sowat 150 inwoners. Dit stel die tehuis in staat stel om noodsaaklike verbeterings aan te bring en die inwoners se leefomgewing te verbeter.”
Buys het haar dank teenoor almal uitgespreek wat tot die sukses van die aand bygedra het.
“Ons is opreg dankbaar aan elkeen wat ons ondersteun het, wat in persoon kom bywoon of agter die skerms gehelp het. Dit was ‘n voorreg en plesier om saam met julle te kon kuier,” sê sy.
Die tiende wynveiling het daarmee nie net ‘n dekade van die jaarlikse geldinsamelingsgeleentheid gevier nie, maar ook gewys hoe gemeenskapsondersteuning ‘n direkte verskil aan die inwoners van Huis Wittekruin kan maak.





