VREDENBURG – Die Megaforce Weskus-motorfietsklub het vroeër vandeesmaand die inwoners van Huis Wittekruin weer met ‘n spesiale bederfdag verras.
Die dag het met die kenmerkende gebrul van motorfiets-enjins begin toe die klub se lede by die tehuis opgedaag het, gereed om die bejaardes ‘n onvergeetlike ervaring te gee.
Hierdie keer het die klub hamburgers geborg en self die patties oor die kole gebraai, terwyl hulle ook heerlike kolwyntjies vir die inwoners gebak het.
Die hoogtepunt van die dag op Saterdag 10 Oktober was ‘n Noot-vir-noot-speletjie. Met Chantell Cornelissen as seremoniemeester het die gewilde musiekraai-speletjie die bejaardes behoorlik laat lewe kry en vir groot pret gesorg.

Nes met die vorige twee besoeke het avontuurlustige inwoners ook vanjaar weer opgewonde kom toustaan om ‘n draai op die blinkgewaste brulperde te ry. Inwoners het ten spyte van moeilike knieë en hoë voetvastrapplekkies op die motorfietse geklim vir ritte op die perseel.
Elke jaar wil die bejaardes amper nie van die motorfietse afklim nie. Vanjaar is daar selfs gevra vir ‘n tweede rit om die perseel.
Bikers tree ook af, en van hulle bly in Huis Wittekruin en wou nie hulp hê tydens die opklim op die motorfietse nie, want “hulle weet hoe”. Die ritte het hulle erg laat terugverlang na die tyd wat hulle self die lang pad aangedurf het.
Oudergewoonte is daar weer met ‘n motorfiets deur die eetsaal gery en op inwoners se aandrang so ‘n bietjie daarmee geraasgemaak. Klublede het dit geniet om die ete vir inwoners te bedien.

Karin Buys, Huis Wittekruin-bestuurder, het haar dankbaarheid teenoor Megaforce Weskus uitgespreek en gesê die besoek beteken ontsettend baie vir die inwoners én die personeel.
Die klub het ook ‘n verskeidenheid higiëniese produkte aan die tehuis geskenk.
Benj Truter, klubpresident, het spesiaal die biker-gemeenskap bedank wat Megaforce Weskus se Sleepovers en Dice Runs bywoon. “Die geld wat só ingesamel word, maak ‘n dag soos dié moontlik.” Hy het verwys na Shaun van Rooyen van RAMM Hydraulics wat byvoorbeeld ‘n bottel tuisgemaakte toffielikeur ten duurste tydens ‘n veiling by vanjaar se Sleepover ten bate van Huis Wittekruin se bederfdag gekoop het.
Die Megaforce Weskus-motorfietsklub het in April 2023 vir die eerste keer Huis Wittekruin besoek, en weer in 2024. Buys beskryf dié besoeke as ‘n hoogtepunt vir die inwoners. Sy het weereens die klublede vir hul omgee en die afstaan van hul tyd bedank.
Blaai gerus deur die fotoalbum met foto’s deur klublede en Joe Lo Photo Studio:
LEES OOK: Motorfietsklub bederf bejaardes












































You must be logged in to post a comment.