HOPEFIELD – Alle paaie het op Woensdag 12 Augustus na die Ronnie Louw-sportterrein in Hopefield gelei, waar ses senior klubs van die Weskus in die eerste ronde van die Weskus Goue Spele meegeding het.
Die Saldanhabaai Forum vir Ouer Persone het die byeenkoms aangebied wat deur wowat 150 atlete en amptenare bygewoon is.
Sakkie Mentoor, forumkoördineerder, en Jack Titus, wat brons- en silwermedaljes by die 2022 Afrika-spele in Pretoria verower het, het deel van die dag gevorm.

Die atlete moes eers mediese inspeksies, waaronder bloeddruk- en suikertoetse, ondergaan om seker te maak dat hulle gesond en gereed is om deel te neem.
Daarna is die spele formeel met ’n gebed en die gesamentlike sing van die nasionale lied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, geopen.
Die kleurvolle byeenkoms was van die eerste tot die laaste item mededingend, maar dit het nie net oor wen gegaan nie. Dit was veral ’n geleentheid vir die deelnemers om mekaar te ondersteun en die spele te geniet.
Atlete ouer as 60 en 70 jaar het aan die 500 m-brisk walk, 800 m- en 400 m-items deelgeneem soos gesoute atlete wat aan Olimpiese Spele en wêreldatletiekbyeenkomste gewoond is.
In items soos rugbybal-teikengooi, ringgooi en tradisionele speletjies soos eendegang, jukskei, baldeurgee en doelskiet, was die konsentrasie onder die mans en vroue opvallend.

Die 200 m- en 100 m-naellope het, soos by enige atletiekbyeenkoms, uitgestaan. Hoewel daar nie baie deelnemers was nie, het die items steeds daardie vonk aan die spele verskaf en selfs vriende en ondersteuners op die pawiljoen gemotiveer.
Die spele is op ’n besonderse noot afgesluit met ’n vermaaklike item waarin drie vroulike deelnemers elk binne een minuut as mans moes verklee deur ’n skoen, langbroek, hemp, baadjie en hoed aan te trek, waarna hulle ’n 50 m moes hardloop. Die item het die Weskus Goue Spele op ’n hoogtepunt en stylvol afgerond.
Alle deelnemers is met goue medaljes vereer – ’n bewys dat die organiseerders nie net omgee nie, maar senior burgers werklik waardeer.
Ná die medalje-oorhandiging het die Weskus Senior Burgers Forum die deelnemende senior klubs vir hul deelname bedank en hulle sterkte toegewens vir die laaste byeenkoms, wat op 29 Augustus in Moorreesburg plaasvind.
Volgens Mentoor sal ’n Weskus-distrikspan hierna gekies word om vroeg in September in Bloemfontein deel te neem.

Die deelnemende klubs was Masada-seniorburgerklub (Atlantis), die Saldanha Seawave-seniorklub, Vital Connection-seniorklub, die Silwerblaar-seniorklub (Hopefield), die Golden Leaves Community Outreach Club, die Green Lillies-seniorklub (Vredenburg) en die Silvertree-seniorklub (Langebaan).
Die Forum het die Saldanhabaai-munisipaliteit, die Weskus-distriksmunisipaliteit, die Departemente van Welsyn en Maatskaplike Dienste, Sport, Kuns en Kultuur van die Wes-Kaapse Regering, Sea Harvest (Saldanha) en privaat organisasies geloof vir hul bydraes tot die byeenkoms.
Die gasheerklub, Hopefield Seniors, is ook uitgesonder vir die voorbereiding van die Ronnie Louw-sportterrein. “Dit was ’n goeie byeenkoms en ons is dankbaar vir almal wat bygedra het tot die sukses van die Weskus Goue Spele,” het Mentoor gesê.




You must be logged in to post a comment.