Een en dieselfde man.
Die oudpolisieman wat na bewering Saterdagaand sersant Donay Phillips (32) van die Seepunt-polisie in die New Somerset-hospitaal in Kaapstad doodgeskiet het, is glo dieselfde man wat nog ’n polisielid van Hopefield twee dae voor Saterdag se skietvoorval met ’n mes in die bors gesteek het.
Dié oudpolisieman van Vredenburg, Jean-Paul Malgas (39), het Dinsdag in die Kaapse landdroshof op onder andere drie aanklagte van moord verskyn en hy het sy aansoek om borgtog laat vaar.
Malgas het na bewering reeds al Donderdagaand, twee dae voor die driedubbele moord, ook ’n plaaslike polisieman van Hopefield aangeval.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus, het die Hopefield-polisie Donderdagaand 5 Mei om 18:47 op ’n klag van oproerigheid in die dorp gereageer.
Helfrich sê polisielede van Hopefield het gaan ondersoek instel en die oproerige man, ’n voormalige lid van die polisie, in Skoolstraat aangetref.
Die polisielede het volgens Helfrich probeer om die man onder bedwang te bring, maar die verdagte het na bewering in die gestoei een van die polisiesersante (40) met ’n mes in die linkerbors gesteek.
Sy kollega het reageer deur na die aanvaller te skiet en hy is in die boud gewond.
Volgens Helfrich is die beseerde sersant van die Hopefield-polisie en die aanvaller daarna in die hospitaal opgeneem.
Malgas se besering is heelwaarskynlik die rede waarom hy in die New Somerset-hospitaal opgeneem is.
Twee dae ná die aanval op die Hopefield-polisieman, is Phillips en twee pasiënte in hierdie hospitaal na bewering deur Malgas doodgeskiet.
Volgens die polisie het Phillips Saterdag ’n beseerde 35-jarige man in polisieaanhouding bewaak wat vir behandeling na die hospitaal geneem is.
Phillips het glo ’n oproerigheid in die hospitaalsaal langsaan gehoor en gaan ondersoek instel.
Thembisile Patekile, die provinsiale polisiekommissaris, het in ’n persverklaring gesê ’n stoeiery met ’n pasiënt het in dié saal uitgebreek en Phillips het dadelik ingegryp.
Phillips is in die proses oorval, van sy dienspistool gestroop en deur die pasiënt, glo ene Malgas, in die kop geskiet.
Twee ander pasiënte (48 en 42 jaar oud) is ook op die toneel doodgeskiet.
Volgens dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het ’n verpleegster met baie psigiatriese ondervinding die moed gehad om die saal binne te gaan.
Sy het die skieter oortuig om die vuurwapen te oorhandig. Daarna het sy hom met ’n verdowingsmiddel ingespuit.
Phillips is Sondagoggend om 03:15 in die Groote Schuur-hospitaal dood, ure nadat hy van die New Somerset-hospitaal in Groenpunt oorgeplaas is.
Een van die vermoorde pasiënte is intussen geïdentifiseer as Geret Carolus, oorspronklik van Atlantis. Carolus se suster, Amanda Bodkin, sê hy het die afgelope jaar egter in Laingville, St. Helenabaai, gewoon.
Carolus was ’n diabeet en was ten tyde van sy moord in die hospitaal vir die amputasie van sy been weens diabetiese komplikasies.
Die polisie probeer nog om die familie van die tweede noodlottig gewonde pasiënt, glo ’n hawelose, in die hande te kry.
Patekile het ook bevestig die skieter was ’n pasiënt by die hospitaal en ook ’n oud-polisiebeampte.
Hy het gesê Phillips is maklik deur die groot geboude oud-polisiebeampte oorval. Dié is op die toneel in hegtenis geneem.
Malgas se prokureur, Shaun Balram, het Dinsdag in die Kaapse landdroshof gesê sy kliënt ly aan erge depressie en het selfmoordneigings.
Die saak is tot 30 Junie uitgestel.
Volgens brig. Novela Potelwa, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sal Phillips deur sy kollegas as ’n baie netjiese, voorbeeldige en vriendelike polisieman onthou word.
Hoewel Phillips se kollegas volgens Potelwa “’n broer in Phillips verloor het”, het Jodie Williams, ’n onderwyser by Steenberg’s Cove Primêr in St. Helenabaai, haar verloofde aan die dood afgestaan.
Die skoolhoof, Karyke Smit, het vandeesweek in ’n verklaring op die skool se Facebookblad gesê: “Ons harte is stukkend saam met juffrou Jodie en Donay se familie. Ons dra julle op in gebed en vra dat God julle hierdeur sal dra.”


