VREDENBURG – Die R300 miljoen Paternoster-bedrogsaak, waarin nege beskuldigdes en verskeie maatskappye aanklagte in die gesig staar, is op Vrydag 18 September in die Vredenburg-streekhof uitgestel na volgende jaar.
Die saak, wat sedert Junie 2025 voor die hof dien, het by die vorige verhoor in Mei vanjaar belangrike ontwikkelings beleef toe die staat klagtes teen Johan Eigelaar (70) en ses maatskappye teruggetrek het. Eigelaar is deur die Hooggeregshof onder kuratorskap geplaas, en ‘n aansoek ingevolge Artikel 77–79 van die Strafproseswet sou waarskynlik nie ‘n ander uitkoms hê nie.
Die oorblywende beskuldigdes sluit in Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Carel Mienie (54), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Bennie Lubbe (84), Nico Latsky (77), Albert Marais (69) en Petrus Marais (64). Advokaat Leon van der Merwe het hulle vandag verteenwoordig.

Volgens die staat het die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 aandeelpryse gemanipuleer, wat minderheidsaandeelhouers van Paternoster Groepbelange (PGB) na bewering sowat R300 miljoen gekos het. Die aanklagte sluit onder meer bedrog, oortredings van die Maatskappywet en die Wet op Finansiële Markte, regsverydeling en diefstal in. Sommige beskuldigdes word ook aangekla ingevolge die Wet op die Ouditprofessie.
Verlede jaar het die staat bykomende aanklagte van regsverydeling teen al die beskuldigdes bygevoeg. Drie voormalige nie-beherende direkteure van die sogenaamde EPM-blok (die Eigelaars, die Pienaars en die Marais-families) is ook van diefstal aangekla weens beweerde onwettige reistoelae van sowat R184 000 per jaar oor ‘n tydperk van meer as ‘n dekade.
Die ondersoek het begin nadat ‘n fluitjieblaser beweerde ongerymdhede by PGB aangemeld en later klagte by die Valke (die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek) ingedien het. Volgens die staat is minderheidsaandeelhouers mislei om hul aandele teen laer pryse te verkoop, terwyl die sogenaamde EPM-blok finansieel voordeel getrek het.
Die staat het by die vorige verhoor aangedui dat verdere aanklagte bygevoeg sal word sodra ondersoeke deur die Finansiële Sektor Gedragowersig (FSCA) en die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure (IRBA) gefinaliseer is.
Staatsadvokaat Thersia du Toit-Smit het aangedui dat die staat uitstel vra tot 19 Maart 2027 sodat die ondersoek gefinaliseer kan word.
Die beskuldigdes Pienaar, Eigelaar, Minnie, Latsky, Tarrant, Lubbe, Petrus Marais en Albert Marais is gewaarsku om vóór die einde van Oktober 2026 te reageer op die bykomende aanklag ingevolge Artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (PRECCA). Hulle is meer tyd gegun weens ander ondersoeke wat eers afgehandel moet word.
Al die beskuldigdes bly op vrye voet op borgtog van R10 000 elk onder streng voorwaardes, insluitend die inhandiging van paspoorte. Hulle mag nie met staatsgetuies inmeng of hulle intimideer nie, en alle reisplanne moet vooraf aangemeld word.




You must be logged in to post a comment.