LANGEBAAN – Die Lagoon-rolbalklub het in Augustus met sy gewilde Lente-sakeliga met 24 deelnemende spanne begin.
Van die nuwe gesigte wat vir die eerste keer hul vaardighede op die rolbalbaan toets, is Geldenhuys en Jonker-prokureurs, Pentz-eiendomme, Bay-Man Projects, Sparkbit en West Coast Party Shop.
Verlede week het die spanne ronde 7 van altesaam 11 rondes voltooi. Die kompetisie is straf en spanne gee mekaar behoorlik opdraand. Soos altyd het die liga ook reeds ‘n paar verrassende uitslae opgelewer, wat bewys dat geen span sy plek op die punte- leer as vanselfsprekend kan beskou nie.
Dinsdag-afdeling
In die Dinsdag-afdeling is die “old-time favourites” PJ Toilets tans die span om te klop. Hulle loop met ‘n indrukwekkende 16 punte voor.
Die Rolling Oldies en MJ Geomatics volg kort op hulle hakke, albei met 10 punte.
Donderdag-afdeling
In die Donderdag-afdeling is die kompetisie ewe straf. Comtel loop voor met 14 en Magic Services en Old Man’s Blend is albei op 12 punte.
Copy & Paste beklee tans die derde plek en sal beslis nie sommer hulle posisie prysgee nie.
Met nog vyf wedstryde voor die aanvang van die eindronde, kan die punteleer nog aansienlik verander. Hierdie week wag daar weer ‘n paar interessante kragmetings.
Die voorloper, PJ Toilets, kom teen Eco Sport en Suzuki te staan, terwyl Comtel die geleentheid het om sy voorsprong in die Donderdag-afdeling verder te vergroot.
Sal Comtel die geleentheid aangryp? Of gaan een van die ander spanne die appelkar omgooi?
Die spanning bou op namate die liga sy laaste rondes nader.
Die top-sesspanne van elke afdeling sal op Woensdag 23 September in die groot eindronde meeding. Met die huidige punteleer so mededingend, beloof dit om ‘n opwindende eindstryd te wees.
Die titel as Weskus-rolbal-sakeliga-kampioen is beslis nog wyd oop en die volgende vier rondtes kan alles verander.



