Die Lagoon-rolbalklub se baie gewilde sakeliga het weer in Maart begin en is volspoed aan die gang.
‘n Dinsdag- en ‘n Donderdag-afdeling word gespeel, waarin 24 spanne elke aand twee rondes teen verskillende spanne in ‘n rondomtalie-formaat speel.
Heelwat spanne is gereelde deelnemers, maar splinternuwe spanne soos Kim Pistor Prokureurs, Harcourts en Beachcombers is nou ook deel. Weslander neem ná ‘n kort pouse ook weer deel.
Die kompetisie bly straf namate die spanne se vaardighede bly groei en verfyn word. Hier is gewis spelers wat die sport gerus as professionele spelers kan oorweeg.
Ná ses rondes loop Hyundai voor in die Dinsdag-afdeling met Boesmanland-slaghuis en die Rolling Oldies kort op hul hakke.
In die Donderdag-afdeling heers die voorloper-stryd tans tussen Old Man’s Blend, Headline Blinds en Comtel.
Vyf rondes is nog oor wat gespeel moet word en in dié tyd kan baie nog verander.
Kan verlede jaar se topspanne – Headline Blinds, Eco Sport, Boesmanland-slaghuis, Magic Services en Copy & Paste – dit weer doen?




