Ouers van St. Helenabaai is moeg gewag vir die bou van ‘n hoërskool in die dorp.

Die gemeenskap van St. Helenabaai voel dat hul jare lange pleidooi vir ‘n hoërskool in die dorp steeds op dowe ore val.

In ‘n verklaring wat deur Thyrone Williams, die onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en ‘n raadslid van Laingville uitgereik is, faal die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die gemeenskap van St. Helenabaai deur die kinders hul fundamentele reg op onderwys te ontsê.

“Ten spyte daarvan dat die provinsiale regering ‘n ernstige behoefte aan ‘n nuwe hoërskool aan die Weskus erken het, het hulle die projek weer eens in die 2026-begroting uitgesluit. Dit is verraad teenoor die inwoners van Laingville en omliggende gebiede, wat jare lank leë beloftes ontvang het, sê Williams.

Ouers van leerders in St. Helenabaai deel al geruime tyd hul bekommernisse en griewe oor ‘n hoërskool in die dorp en het al verskeie griefskrifte aan die WKOD gerig. ‘n Vreedsame betoging is Dinsdag (8 April) gehou toe geen hoërskoolleerders op busse geklim het om na hul onderskeie skole in Vredenburg vervoer te word nie – juis om hul ontevredenheid oor die situasie uit te spreek.

Ouers meen die bou van ‘n hoërskool sal die lewe van ouers en leerders baie makliker maak en ook die veiligheid van leerders verbeter.

Volgens Williams het die SBM reeds die weg gebaan deur meer as R3 miljoen in ontwikkelingskoste vir die Laingville-skoolterrein kwyt te skeld.

“Die plaaslike regering is gereed, maar die provinsie sloer steeds, wat daarop dui dat die skool nie in die 2027-’28-begroting sal realiseer nie. Die premier, Alan Winde, het ons in sy Staatsrede gevra om in te spring en meer te doen. Ons doen ‘n beroep op die premier om sy eie raad te volg.”

Volgens Milicent Merton, ‘n woord- voerder vir die WKOD, is ‘n eiendom vir die potensiële toekomstige ontwikkeling van ‘n hoërskool in St. Helenabaai uitgewys. Sy meen die perseel is in die proses om deur die Wes-Kaapse Regering verkry te word.

“Dit waarborg egter nie die onmiddellike ontwikkeling van ‘n skool nie. Ons moet van die beskikbare begroting af werk en die verwante munisipale dienste en beplanningspermitte moet ook verkry word. Dit moet alles ooreenstem voordat die ontwikkeling van ‘n skool kan voortgaan. Ons moet ook ander mededingende eise vir plasing in die provinsie en groei oorweeg.

“In hierdie stadium word die ontwikkeling van ‘n nuwe hoërskool in St. Helenabaai nie as ‘n nuwe skoolprojek binne ons medium termyn- uitgaweraamwerk begroot nie, maar stappe is en word gedoen vir dié potensiële toekomstige ontwikkeling,” voeg sy by.

Williams meen die gemeenskap se geduld is uitgeput.

“Ons het probeer om ordentlik te wees, maar as die WKOD voortgaan om ons kinders te ignoreer, bly betogings ons laaste uitweg. Ons mense wil nie meer beplanningsprosesse hê nie – hulle wil ‘n tydlyn en ‘n skool hê.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article