CapeNature sal in 2026 voortgaan met sy vergroeningsinisiatiewe, wat volgens sy hoof, dr. Ashley Naidoo, voortbou op die sukses van vorige programme. Hierdie projekte het skole en gemeenskappe reg oor die Wes-Kaap gehelp om inheemse tuine en nie-indringende voedseltuine te vestig.
Die inisiatief vorm deel van Cape- Nature se Plant Een Miljoen Bome-veldtog, wat bydra tot die nasionale poging om boomaanplanting te verhoog en omgewingsvolhoubaarheid in Suid-Afrika te bevorder.
As deel van die 2026-program word ‘n vergroeningskompetisie vir skole en gemeenskappe bekendgestel. Deelnemers sal aangemoedig word om hul tuine te ontwikkel deur inheemse plante te plant, groen ruimtes te onderhou en omgewingsbestuur te bevorder. Die kompetisie begin op Maandag 13 April, saam met Internasionale Plantwaarderingsdag, en duur tot Vrydag 15 Mei.
Naidoo moedig inwoners aan om gedurende die wintermaande te plant, wanneer reënval gunstiger is vir groei. Deelnemende skole en gemeenskappe sal ook ondersteuning ontvang, insluitend saailinge, plante, gereedskap en opvoedingsprogramme om volhoubare tuine te vestig en te onderhou.





