Die polisie en familielede van Magdalena Rhode (75) doen ‘n beroep op die publiek om te help om “Suster Lenie” op te spoor.

Rhode se familie het haar die afgelope Sondag (28 Junie) as vermis aangemeld.

Volgens Thyrone Williams, adjunkburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is Rhode die laaste keer Sondag omstreeks 02:30 gesien toe sy haar woning in die Laingville-buurt verlaat het. Williams sê dat Rhode aan demensie ly, wat ernstige kommer oor haar veiligheid wek. Rhode het ten tyde van haar verdwyning ‘n ligblou nagrok en pantoffels aangehad, en word as kort van postuur beskryf.

Volgens Rhode se seun, Ricardo Rhode, het sy ma al voorheen probeer om die huis te verlaat. “Dit wat nou die naweek gebeur het, is ‘n heel ander storie. Ons het al die hele Laingville al deursoek, Velddrif se kant en ooral waar ons dink sy kan wees.”

Ricardo sê daar is ook deur die kameras na die paaie gekyk, maar daar was geen teken van sy ma nie.

Die St. Helenabaai-polisie ondersoek tans die saak. Andrew Prinsloo, bevelvoerder, het Sondag gesê dat vyf speurders saam met polisielede met ‘n uitgebreide soektog na Rhode besig was.

Intussen is hommeltuie ook in werking gestel, asook ‘n soektog deur die Vredenburg en Saldanha- soek-en-reddingseenhede vir vermiste mense (entiteite op hul eie) begin.

Ricardo sê hy weet nie wat kon gebeur het nie. “Nêrens is daar leidrade nie en ons weet nie meer watter kant toe nie. Daar is nie eintlik woorde nie, maar ons versoek die publiek om asseblief op die uitkyk vir haar te wees.”

◘ Die familie bied ‘n R5 000-beloning aan vir leidrade wat tot Rhode se opsporing kan lei. Enigiemand met inligting oor waar Rhode haar dalk mag bevind, word gevra om die St. Helenabaai-polisie onmiddellik by 082 443 8384 te kontak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article