Weskus-ouma word vermis. Foto: Jorge Lopez | Unsplash
Weskus-ouma word vermis. Foto: Jorge Lopez | Unsplash

Polisiesoektog na vermiste Weskus-ouma wat aan demensie ly


ST HELENABAAI – Die polisie en familielede van die 75-jarige Magdalena Rhode doen ‘n beroep op die publiek om te help om “Suster Lenie” op te spoor.

Rhode se familie het haar al vroeg vandag (Sondag 28 Junie) as vermis aangemeld.

Volgens beskikbare inligting, volgens Thyrone Williams, uitvoerende adjunkburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is Rhode die laaste keer omstreeks 02:30 gesien. Sy het haar woning in die Laingville-buurt verlaat.

Vermiste Magdalena Rhode.
Magdalena Rhode (75) word sedert vroegoggend (Sondag 28 Junie) vermis.

Williams het benadruk dat Rhode aan demensie ly, wat ernstige kommer oor haar veiligheid wek. Volgens hom is dit die eerste keer dat sy vermis raak.

Rhode het ten tyde van haar verdwyning ’n ligblou nagrok en pantoffels aangehad, en word as kort van postuur beskryf.

Die St. Helenabaai-polisie ondersoek tans die saak. Andrew Prinsloo, stasiebevelvoerder van die St. Helenabaai-polisie, het gesê vyf speurders is saam met polisielede wat tans op skof is, besig met ’n uitgebreide soektog na Rhode.

Prinsloo het bygevoeg dat die polisie alle beskikbare hulpbronne sal aanwend om haar te probeer opspoor.

Enigiemand met inligting oor waar Rhode haar dalk bevind, word gevra om die St. Helenabaai-polisie onmiddellik by 082 443 8384 te kontak.

Enigiemand wat Rhode gesien het of enige inligting oor haar verblyfplek het, word dringend versoek om die St. Helenabaai polisie te kontak by 082 443 8384, of Williams by 073 427 6308, of enige polisie stasie waar sy gewaar word.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om haar foto en hierdie vermistepersoon-waarskuwing wyd te deel om te help om haar veilig huis toe te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article