ST HELENABAAI – Die familielede van die 75-jarige Magdalena “Suster Lenie” Rhode van Laingville doen ‘n beroep op die publiek om te help om “Suster Lenie” op te spoor. Hulle loof ook ‘n beloning van R5000 uit vir enige inligting wat help om haar terug te kry.
Rhode se familie het haar die afgelope Sondag (28 Junie) as vermis aangemeld.
Rhode is die laaste keer Saterdag 27 Junie gesien en die familie het omstreeks 01:30 opgelet dat sy nie meer in die woning is nie.

Thyrone Williams, onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit benadruk dat Rhode aan demensie ly, wat ernstige kommer oor haar veiligheid wek. Rhode het ten tyde van haar verdwyning ‘n ligblou japon en pantoffels aangehad en word as kort van postuur beskryf.
Volgens Rhode se seun, Ricardo Rhode, het sy ma al voorheen probeer om die huis te verlaat. “Dit wat nou die naweek gebeur het, is ‘n heel ander storie. Ons het al die hele Laingville deursoek, Velddrif se kant toe ook … oral waar ons dink sy dalk kan wees.”
Die St. Helenabaai-polisie ondersoek tans die saak.
KYK | Suster Lenie geniet Moedersdag (Sondag 10 Mei) saam met haar familie:
Andrew Prinsloo, stasiebevelvoerder, het gesê dat vyf speurders reeds Sondag saam met polisielede met ‘n uitgebreide soektog na Rhode begin het.
Intussen is hommeltuie ook in werking gestel..
Ricardo sê hy weet nie wat kon gebeur het nie. “Nêrens is daar leidrade nie en ons weet nie meer watter kant toe nie. Daar is nie eintlik woorde nie, maar ons versoek die publiek om asseblief op die uitkyk vir haar te wees.”
• Enigiemand met inligting oor waar Rhode haar dalk mag bevind, word gevra om die St. Helenabaai-polisie onmiddellik by 082 443 8384 te kontak.





You must be logged in to post a comment.