Weslander

Weskus-familie loof beloning uit om vermiste ouma te help opspoor

Van die plakkate om Rhode te help opspoor.
Van die plakkate om Rhode te help opspoor.
Weslander

Weskus-familie loof beloning uit om vermiste ouma te help opspoor


ST HELENABAAI – Die familielede van die 75-jarige Magdalena “Suster Lenie” Rhode van Louwville doen ‘n beroep op die publiek om te help om “Suster Lenie” op te spoor. Hulle loof ook ‘n beloning van R5000 uit vir enige inligting wat help om haar terug te kry.

Rhode se familie het haar die afgelope Sondag (28 Junie) as vermis aangemeld.
Volgens Thyrone Williams, adjunkburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is Rhode die laaste keer Sondag omstreeks 02:30 gesien toe sy haar woning verlaat het.

Die vermiste Lenie Rhode.
Suster Lenie Rhode.

Williams benadruk dat Rhode aan demensie ly, wat ernstige kommer oor haar veiligheid wek. Rhode het ten tyde van haar verdwyning ‘n ligblou nagrok en pantoffels aangehad en word as kort van postuur beskryf.

Volgens Rhode se seun, Ricardo Rhode, het sy ma al voorheen probeer om die huis te verlaat. “Dit wat nou die naweek gebeur het, is ‘n heel ander storie. Ons het al die hele Laingville deursoek, Velddrif se kant toe ook … oral waar ons dink sy dalk kan wees.”

Ricardo sê daar is ook deur die munisipale kamera-opnames na die paaie in en om Laingville gekyk of hulle haar sien, maar daar is geen teken van sy ma nie.

Die St. Helenabaai-polisie ondersoek tans die saak.

KYK | Suster Lenie geniet Moedersdag (Sondag 10 Mei) saam met haar familie:

Ouma Magdalena Rhode word bederf op Moedersdag (Sondag 10 Mei).

Andrew Prinsloo, stasiebevelvoerder, het gesê dat vyf speurders reeds Sondag saam met polisielede met ‘n uitgebreide soektog na Rhode begin het.

Intussen is hommeltuie ook in werking gestel..

Ricardo sê hy weet nie wat kon gebeur het nie. “Nêrens is daar leidrade nie en ons weet nie meer watter kant toe nie. Daar is nie eintlik woorde nie, maar ons versoek die publiek om asseblief op die uitkyk vir haar te wees.”
• Enigiemand met inligting oor waar Rhode haar dalk mag bevind, word gevra om die St. Helenabaai-polisie onmiddellik by 082 443 8384 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article