Die wenners, PJ Toilets, saam met sakeliga-sameroepers Herman van Lill (links) en Etienne Schutt.

PJ Toilets bly bestes in Weskus se sakerolbal

Die wenners, PJ Toilets, saam met sakeliga-sameroepers Herman van Lill (links) en Etienne Schutt.

LANGEBAAN – Die mededinging, wat die hele seisoen lank straf was, het in die eindronde van die Lagoon-rolbalklub se Lente-sakeliga ‘n hoogtepunt bereik toe PJ Toilets op Woensdag 23 September met die wennerskild weggestap het.

Die span het deur die seisoen in die Dinsdag-afdeling voorgeloop met ‘n indrukwekkende 16 punte, en in die eindronde het hulle die kampioenskap beklink.

Old Men’s Blend, wat in April as wenner van die Wintersakeliga aangewys is, moes dié keer met die tweede plek tevrede wees. Hulle bly een van die mees gedugte spanne in die liga.

Die eindronde het die top-6- spanne uit die Dinsdag- en die Donderdag-afdelings teen mekaar gebring, en elke plek is heftig betwis.

Verskeie spanne het merkwaardig verbeter sedert die Wintersakeliga in April.

Rolling Oldies het van die sewende na die derde plek opgeskuif deur Comtel te klop, terwyl Comtel self ook van die agtste na die vierde plek geklim het.

Magic Services het die grootste sprong gemaak, van die 15de plek in die winter na die vyfde plek in die lente. Suzuki het ook merkwaardig verbeter, van die 14de na die negende plek, nadat hulle Watergat geklop het.

Watergat het op hul beurt van die onderste helfte opgeskuif en dié keer ‘n plek in die top-12 verseker.

Tweede Kans het van die negende na die sesde plek geklim, terwyl Langebaan Holiday Homes van die 19de plek in die winter na die 11de plek in die lente geskuif het. Hulle het Fish Eagle geklop, wat van die 11de na die 12de plek geskuif het.

Langebaan Holiday Homes was die wenner van twee naelbyt ekstra beurte nadat hulle gelykop met Fish Eagle geëindig het.

Copy & Paste het van die sesde plek in die winter na die agtste plek in die lente geskuif.

Die liga het in Augustus met 24 deelnemende spanne weggespring, verdeel in ‘n Dinsdag- en ‘n Donderdag-afdeling.

Nuwe gesigte wat vir die eerste keer hul vaardighede op die rolbalbaan getoets het, sluit Geldenhuys en Jonker-prokureurs, Pentz-eiendomme, Bay-Man Projects, Sparkbit en West Coast Party Shop in.

Ander spanne wat deelgeneem het, was MJ Geomatics, Eco Sport, Alustation, West Coast Flooring, Club Mykonos, Husky’s Restaurant en die Langebaan-sakekamer (Business Chamber).

Die kompetisie was deur die seisoen straf, met PJ Toilets wat in die Dinsdag-afdeling voorgeloop het en Comtel wat in die Donderdag-afdeling die voorhoede gehou het.

Die spanning het tot by die eindronde gebou, en die uitslae het gewys dat geen span sy plek op die punteleer as vanselfsprekend kan beskou nie.

Etienne Schut en Herman van Lill, sakeliga-sameroepers, het weer die seisoen met toewyding bestuur.

Hulle het almal bedank wat van die sakeliga ‘n groot sukses maak. Veral die spanlede van die Lagoon-rolbalklub wat elke Dinsdag- en Donderdagaand hul tyd opgeoffer het om tot laataand diens te doen, is spesiaal bedank. “Baie, baie dankie aan elkeen van julle wat altyd bereid was om te help en jul dienste vrywillig aan te bied. Sonder julle staatmakers kan die klub nie voortbestaan nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 1 October 2026
    Weslander E-Edition – 1 October 2026

Gift this article