Van geslagsgebaseerde geweld tot dwelmhandel en misdaad het gemeenskappe die afgelope tyd in die Weskus hul stemme verhef en die boodskap duidelik gemaak: genoeg is genoeg.
Optogte het in Langebaan, Saldanha en St Helenabaai plaasgevind, waar inwoners vreedsaam saamgestaan het om hul kommer oor geweld, misdaad en die uitwerking van dwelms op hul gemeenskappe uit te spreek.
In Langebaan en Saldanha het die fokus op geslagsgebaseerde geweld geval. Volgens Esmarelda McKay van One Billion Rising South Africa se Weskus-koördinering, is die optogte geïnspireer deur die werk van Lucinda Evans, leier van One Billion Rising South Africa, en haar oproep om standpunt teen geslagsbaseerde geweld in te neem. “Die Weskus is nie vry van geslagsgebaseerde geweld nie. Ons sien wat gebeur. Ons voel die pyn. En ons gaan nie stilbly nie,” het sy gesê.
McKay het beklemtoon dat die optogte nie as ‘n eenmalige gebeurtenis beskou moet word nie, maar eerder as die begin van groter gemeenskapsbetrokkenheid.

Sy het ‘n beroep gedoen om beter samewerking tussen gemeenskapsleiers, die gemeenskapspolisiëringsforums, organisasies, skole, die polisie en ander rolspelers.
Volgens haar moet meer aandag aan voorkoming, vroeë ingryping, ondersteuning aan slagoffers en opvoeding binne gemeenskappe gegee word.
Die Steenberg’s Cove-mansforum het ‘n vreedsame optog in St Helenabaai teen misdaad, dwelmhandel en die verkoop van onwettige middels aan kinders en jongmense gereël.
Volgens Chester du Toit, ‘n lid van die Steenberg’s Cove-mansforum, het ongeveer 200 volwassenes en 100 kinders aan die optog deelgeneem. “Ons aanvaar nie misdaad en dwelms as deel van die normale lewe in ons gemeenskap nie. Die gemeenskap wil ‘n veiliger omgewing vir kinders skep en sterker optrede teen dwelmhandel sien.

Die Mansforum hoop ook op meer sigbare polisiëring, beter samewerking tussen die polisie en inwoners en die vestiging en versterking van ‘n buurtwag.
Du Toit het egter beklemtoon dat misdaad en dwelms nie slegs deur polisiëring opgelos kan word nie.
“Werkloosheid, behuising, infrastruktuur en beter geleenthede vir ons jeug moet ook deel wees van die langtermyn-oplossing,” het hy bygevoeg.
Albei optogte het dieselfde boodskap gestuur, dat geweld, misdaad en dwelms nie ‘n normale deel van gemeenskapslewe is nie.




