Die veiligheid van kinders was weer ‘n gesprekspunt tydens ‘n onlangse raadsvergadering van die Saldanhabaai-munisipaliteit. Daar is opgemerk dat baie leerders, veral in Louwville, buite die skoolgronde geteiken word. Daarby is dit is ‘n probleem wat al vir lank kommer wek.
Volgens raadslid Theressa Rossouw moet die veiligheid van kinders altyd ‘n prioriteit wees.
“Elke kind is van onskatbare waarde, onvervangbaar, en die verlies van selfs net een jong lewe is een te veel. Vir baie jare word gemeenskappe rondom skole deur bendegeweld en gewelddadige misdade geteister, insluitend rooftogte met messe, steekvoorvalle en ander kriminele dade wat deur boewe gepleeg word. Tragies genoeg het leerders van die vyf skole in die gebied reeds slagoffers van hierdie voorvalle geword,” sê Rossouw.
Sy meen onskuldige kinders ly onder die gevaar; of hulle ná skool op vervoer wag, huis toe stap, of bloot op die verkeerde plek op die verkeerde tyd is, onskuldige leerders word gereeld blootgestel aan geweld wat geen plek in hul daaglikse lewens behoort te hê nie.
Rossouw lê klem daarop dat die verantwoordelikheid om die veiligheid van leerders te verseker by baie rolspelers berus.
“Skole en hul personeel, wetstoepassingsagentskappe, ouers, gemeenskapsleiers en inwoners het almal ‘n rol om te speel. Ongelukkig kan dit moeilik wees om geweld te beheer wanneer dit uitbreek, aangesien menslike emosies en individuele keuses dikwels onvoorspelbaar en uitdagend is om te bestuur. Dit is waarom skole en gemeenskappe proaktiewe maatreëls moet aanneem om misdaad te voorkom en veiligheid te verbeter voordat voorvalle plaasvind.”
‘n Inwoner van Louwville wat al vir jare met skole en leerders werk, meen dit is tyd dat ouers meer betrokke raak by wat buite hul huise, gemeenskappe en met hul kinders gebeur.
“Daar word eenvoudig nie genoeg gedoen om onskuldige kinders veilig te hou nie. Kinders moet ná skool in vrees huis toe stap, en my vraag was nog altyd: Waarom is die polisie, wetstoepassing en ander veiligheidsdepartemente nie meer sigbaar waar ons kinders beweeg nie?
“Ek verstaan dat ons veiligheidsdienste baie verantwoordelikhede het en verskeie uitdagings moet aanspreek. Tog kan ons as ouers nie net van die kantlyn af staan en toekyk nie.”
Die inwoner meen dat die veiligheid van kinders almal se verantwoordelikheid is.
“Te veel ouers bly passief terwyl hul kinders daagliks aan risiko’s blootgestel word.
“Kom ons raak betrokke, ondersteun mekaar en werk saam om ons kinders veiliger te hou. Ouers, raak asseblief betrokke. Ons kinders se veiligheid moet vir ons almal ‘n prioriteit wees,” vra die inwoner.




