Vermoorde Velddrif-vrou: Paarl-polisie nog geen verdagte gevang

Wyle Kotie Nel.
Wyle Kotie Nel.

Vermoorde Velddrif-vrou: Paarl-polisie nog geen verdagte gevang


Weslander.co.za het op Vrydag 27 Maart berig oor Kotie Nel, ‘n nuwe inwoner van Velddrif, wat op Donderdag 26 Maart met verskeie steekwonde in ‘n huis in die Paarl gevind en op die toneel dood verklaar is (Skok in Paarl ná vrou dood in woning aangetref word). 

Haar skielike en gewelddadige dood het skokgolwe deur die gemeenskappe van die Paarl en Velddrif gestuur. 

Kotie Nel saam met haar oudste suster Rina Puntis.
Kotie Nel saam met haar oudste suster Rina Puntis.

In ‘n huldeblyk wat op 9 April verskyn het (Vermoorde Kotie Nel: ‘ ’n Sagte siel het ons verlaat’), het haar familie vertel van ‘n saggeaarde vrou wie se liefde, omgee en deernis talle mense se lewens aangeraak het.

Nou, met haar afskeidsdiens wat op Woensdag 10 Julie by Doxa Deo in Mosselbaai gehou sal word, sê die familie die emosionele las word vererger deur die gebrek aan terugvoering oor die ondersoek.

Volgens Kotie se broer, Danie Cronje, voel dit asof die saak stagneer. Hy beweer daar is ‘n verdagte, maar dat die familie geen aanduiding kry dat die ondersoek noemenswaardige vordering maak nie. “Ons voel magteloos. Dit is ongelooflik moeilik om met die verlies saam te leef terwyl ons steeds nie weet wanneer of hoe daar geregtigheid sal kom nie,” sê hy.

Kotie se suster, Rina Puntis, wat tans besig is om haar huis in Velddrif op te pak, beskryf die rouproses as uiters swaar. “Ons harte is nog stukkend,” sê sy. “Ons vertrou op die Here om ons deur die hartseer en verlies te lei en sien daarna uit om as familie op 10 Julie saam afskeid van Kotie te neem.”

Volgens kapt. F.C. van Wyk, woordvoerder die Wes-Kaapse polisie, word die saak steeds ondersoek. Die ondersoekbeampte volg alle beskikbare leidrade op in ‘n poging om ‘n deurbraak te maak. Daar is egter tans geen nuwe ontwikkelings om bekend te maak nie.

Enigeen met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel of die MySAPS-selfoontoepassing anoniem te gebruik.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 25 June 2026
    Weslander E-Edition – 25 June 2026

Gift this article