PAARL – Lemoenkloof is Donderdag (26 Maart) geruk toe ’n vrou dood in ’n woning aangetref is.
Sersant Wesley Twigg, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het in ’n verklaring aan Weslander bevestig dat die Paarl-polisie ’n moordsaak ondersoek ná ’n voorval Donderdagoggend omstreeks 09:30 in Pleinstraat.
Volgens Twigg het polisielede op die toneel ’n 57-jarige vrou met steekwonde aan haar liggaam aangetref. Sy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Die omstandighede rondom die voorval word tans ondersoek.
Die polisie het nog nie mediaberigte dat die oorledene Kotie Nel is, ‘n vrou wat onlangs van Rheebok by Mosselbaai na Velddrif in die Weskus verhuis het, amptelik bevestig nie.

Raadslid Anton Dellemijn, Uitvoerende Raadslid vir Infrastruktuur en Dienste by die Mosselbaai-munisipaliteit, het op Facebook geskryf dat hy met met groot skok en hartseer verneem het van die wrede afsterwe van “ons geliefde Kotie Nel. Ons gemeenskap is in rou. Kotie was geliefd. Sy het altyd die ekstra myl gestap om haar medemens te help. Hierdie tragiese gebeurtenis laat ’n groot leemte.
Ons gebede en innige meegevoel is met haar familie, vriende en almal wat haar liefhet. Mag julle vertroosting vind en mag die Liewe Vader jul omring met Sy vrede en teenwoordigheid in hierdie moeilike tyd.”
Die ondersoek duur voort, en verdere inligting sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is, het Twigg bevestig.
Die voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, met inwoners wat hul kommer uitspreek oor veiligheid en die onduidelike omstandighede rondom die tragedie.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te kontak of die MySAPS-selfoontoepassing anoniem te gebruik.






You must be logged in to post a comment.