Vermoorde Kotie Nel: ‘ ‘n Sagte siel
het ons verlaat’

Kotie Nel saam met haar oudste suster Rina Puntis.

Kotie Nel wat onlangs Velddrif toe getrek het, se lewelose liggaam is op Donderdag 26 Maart met verskeie steekwonde in ‘n huis in Lemoenkloof, Paarl, gevind.

Weslander het op 27 Maart aanlyn berig oor die moord op Nel (“Skok in Paarl ná vrou dood in woning aangetref word”). Haar skielike en gewelddadige dood het die gemeenskappe van Paarl en Atlantic Sands by Velddrif, waar sy haar onlangs gevestig het, diep geruk.

Wyle Kotie Nel

In die dae ná die tragedie het Weslander met familie en vriende gesels, wat ‘n prentjie skets van ‘n vrou wat met sagtheid, liefde en opregte deernis geleef het.

Kotie was een van sewe kinders en die sesde in die gesin. Sy is ook die tweede kind in die familie wat op ‘n gewelddadige wyse oorlede is. Haar susters en broers is Rina Puntis, Lena (Leentjie) van Dyk, Danie Cronje, Hannie Snyman, Ina van der Merwe en Esebius Cronje.

Volgens haar oudste suster, Rina, is hulle ‘n hegte familie met diep wortels in Riethuiskraal, die plaas waar hulle grootgeword het. Die gesin het later na Parowvallei verhuis, waar Kotie gebore is. Op vyfjarige ouderdom het hulle na Welkom in die Vrystaat getrek, waar sy haar skoolopleiding voltooi het.

Sy het vir baie jare by Teljoy gewerk voordat sy, ná aflegging, ‘n pos as naskoolversorger in Kempton Park aanvaar het, ‘n rol wat perfek by haar liefde vir kinders gepas het.

Later het sy en haar man, Martin Nel, na Mosselbaai verhuis, waar sy haar passie vir kinderbediening in die kerk uitgeleef het. “Kotie het ‘n besondere liefde vir kinders en bejaardes gehad,” vertel Rina. Mense het maklik lief geraak vir haar. In haar hart was daar altyd plek vir nog iemand.”

Familie beskryf haar as ‘n sagte, liefdevolle mens met ‘n diep geloof en ‘n groot hart vir haar medemens. Sy was ook bekend as ‘n uitstekende bakster wat haar geliefdes gereeld met tuisgebakte lekkernye bederf het.

Die familie het reeds deur groot hartseer gegaan. Hul suster Leentjie is sowat 30 jaar gelede in ‘n kaping doodgeskiet, terwyl Kotie se man, Martin, ses jaar gelede aan kanker oorlede is.

Ná sy dood het Kotie in Reebok naby Mosselbaai gebly, waar sy haar eie onderneming, Vlytige Vingers, begin het. Haar beskuit en ingelegde produkte het vinnig gewild geraak danksy haar kreatiwiteit en unieke resepte.

Deernis

Haar broer Danie en sy vrou, Karen, wat naby haar gewoon het, onthou haar as iemand wat altyd gereed was om te help. “Sy was ‘n kosbare, vriendelike mens met die mooiste hart. Sy was altyd daar vir ander, veral vir ouer mense. Haar kos, beskuit en konfyt was besonders, maar dit was haar hart wat mense die meeste geraak het. Sy het nie verdien om so te gaan nie,” het hulle gesê.

Vriende onthou haar as ‘n ware “mense-mens”. Sophio Loots, ‘n jarelange vriendin, vertel: “Kotie het nooit met leë hande kom kuier nie. Haar vinnige ‘hello’ het altyd in ‘n lang, warm kuier ontaard. Ek onthou haar glimlag, haar deernis en hoe sy met haar voete onder haar ingevou op my bank gesit het. My hart is stukkend.”

Melanie Coetzee onthou haar daaglikse bemoedigende boodskappe en haar unieke beskuit en konfyt, iets wat jy nêrens anders sou kry nie.

Lede van haar vorige selgroep in Reebok beskryf haar as nederig, opofferend en iemand wat dikwels stilweg gedien het sonder om erkenning te verwag. “Kotie was ‘n warm, omgeemens wat, ten spyte van haar eie swaarkry, altyd weer opgestaan het. Sy het nie verdien om so wreed van ons weggeneem te word nie, maar ons glo sy het reguit in Jesus se arms ingestap.”

Verlede jaar het Kotie besluit om haar huis in Reebok te verkoop en ‘n nuwe hoofstuk by die see te begin. Sy het haar in Velddrif gevestig, waar sy gou deel van die gemeenskap geword het. Haar Vlytige Vingers-beskuit het ook hier vinnig gewild geraak. “My sussie was baie gasvry en gemoedelik. Sy het ‘n hart vir mense gehad en dit was nooit vir haar moeite om haar bure in siekte of nood by te staan nie,” sê Rina. “Sy het gestraal van liefde en het niemand ooit leed aangedoen nie.”

‘n Familie-foto van Kotie Nel (middel met strepies top) en haar hegte familie.

Mildelik gedeel

Esebius, Kotie se jongste broer, en sy vrou, Fransé, vertel dat Kotie nooit kon stilsit nie. Haar hande was altyd besig – of dit nou was om beskuit te bak, konfyt te kook of ingelegde lekkernye met sorg voor te berei. Dit was nie net haar passie nie, maar ook haar inkomste, en alles wat sy gemaak het, is met liefde geskep en mildelik gedeel.

Sy het opreg omgegee vir ander en het ‘n besondere gawe gehad om mense tuis en welkom te laat voel. Selfs in die kort tyd van vyf maande in Velddrif het sy reeds diep spore in mense se harte getrap. “Kotie se vriendelikheid, omgee en bereidwilligheid om altyd te help, sal lank onthou word. Haar afwesigheid laat ‘n groot leemte, maar haar liefde en die herinneringe wat sy agterlaat, sal vir altyd by ons bly.”

Kotie se susterskind, Madeleine Hofmeyer, en haar man dien as pastorale egpaar in Lemoenkloof, Paarl.

Terwyl hulle vroeër in Maart ‘n interkerklike konferensie in die Filippyne bygewoon het, het Kotie ingestem om na hul huis om te sien.

Volgens inligting het sy op 26 Maart glo ‘n man betrap wat besig was om te steel en is sy aangeval nadat sy hom gekonfronteer het.

Esebius vertel dat Kotie nog Woensdagoggend (25 Maart) ‘n WhatsApp-boodskap gestuur het, maar dat daar Woensdagaand geen verdere kontak was nie. Donderdagoggend het ‘n werker by die woning haar bebloede liggaam gevind, waarna die owerhede ontbied is.

Sers. Wesley Twigg, woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat ‘n moordsaak geopen is en dat die ondersoek voortduur.

Terwyl die ondersoek aan die gang is, probeer familie en vriende steeds sin maak van die verlies van ‘n vrou wat soveel liefde gegee het.

Boodskappe van meegevoel stroom steeds in; almal getuig van haar goedhartigheid, haar vrygewigheid en haar passie vir mense. “Ons familie gaan haar ongelooflik mis. Sy laat ‘n groot leemte. Haar stem is stil, haar plek is leeg, maar die hemel het ‘n engel ryker geword.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article