LANGEBAAN – Marinda Marshall, organiseerder van die padel in die Weskus, vertel hoe dié dinamiese sport vinnig in Suid-Afrika posvat en mense bymekaarbring.
Terwyl spelers oor die baan beweeg en hul rakette balle teen die glasmure moker, is dit duidelik dat padel in net twee jaar ’n gewilde nuwe sportsoort geword het. By die Langebaan Country Estate het die sport die afgelope tyd ’n hegte gemeenskap help vorm.
Vir Marshall, wat al ses jaar by padel in Suid-Afrika betrokke is en die afgelope twee jaar op die Weskus werk, gaan die sport oor oefening en kompetisie, maar is dit ook “’n great way om gemeenskappe aan mekaar voor te stel,” sê sy.

Van Mexiko na Suid-Afrika
Padel se geskiedenis begin in die laat 1960’s in Acapulco, Mexiko, waar Enrique Corcuera ’n tennisbaan by sy huis aangepas het. Volgens Marshall het die bal gereeld van die baan af verdwyn, waarna mure rondom die baan gebou is.
Wat as ’n praktiese oplossing begin het, het vinnig ’n nuwe manier van speel geword. Corcuera se vrou, Viviana, het daarop aangedring dat die telling volgens tennis se reëls behoue bly.
Die sport het later na Spanje versprei en daar posgevat.
In Suid-Afrika het padel se groei veral tydens die Covid-19-tydperk momentum gekry. Die eerste bane is in 2020 in Kaapstad geopen, waarna die sport vinnig na ander dele van die land versprei het.
Vandag is daar bane in onder meer Kaapstad, Johannesburg, Durban en verskeie kusdorpe. Groot fasiliteitsnetwerke het die afgelope paar jaar honderde bane in klubs, leefstylsentrums en woonbuurte gevestig.
Die sport se mededingende vlak het ook uitgebrei, met nasionale kampioenskappe en internasionale kompetisies wat Suid-Afrika se spelers die geleentheid gee om hulself teen sterker spelers te meet.
Marshall se eie betrokkenheid by die sport het haar uiteindelik na Langebaan gebring. Die bane by Langebaan Country Estate is op 12 September verlede jaar vir die publiek geopen.
“Dit is ’n ongelooflike gemeenskap wat nou al hierso gegroei het,” sê sy.

Maklik om te leer, moeilik om te los
Een van die redes waarom padel so vinnig gewild geword het, is die toeganklikheid daarvan.
“Dit is so ’n lekker sport want dit is soos ’n kombinasie van tennis en squash,” verduidelik Marshall.
’n Padelbaan is 20 m lank en 10 m breed, kleiner as ’n tennisbaan, en word deur mure van glas en draadmaas omring. Padel word in dubbelsformaat gespeel, met vier spelers op ’n baan.
Anders as tennis, eindig ’n punt nie noodwendig wanneer die bal by ’n speler verbygaan nie. Nadat die bal die grond geraak het, kan dit teen die glas bons en weer gespeel word.
Dit maak langer, vinniger en dikwels onvoorspelbare tydrenne moontlik.
Volgens Marshall is dit ook ’n sport wat mense van verskillende ouderdomme en vaardigheidsvlakke saam kan laat speel. “Vrouens kan saam met mans speel. Kinders kan saam speel, seniors kan saam speel. Dis ‘n sport wat nie net oor krag gaan nie, maar oor die taktiese plasing van die bal.”
Die sosiale aard van die spel is volgens haar net so belangrik soos die fisieke aspek. Omdat vier mense saam op ’n baan speel, word kommunikasie en spanwerk deel van elke wedstryd. “Almal het een of ander tyd ’n tennisraket of ’n squash– of selfs ’n swingball vasgehou. Wanneer jy met padel begin, kan jy na ’n paar minute saam speel.”

’n Sport wat steeds groei
Die groei van padel gaan egter met koste gepaard. Moderne rakette word onder meer van koolstofvesel en EVA-skuim gemaak en kan volgens Marshall tussen sowat R1 200 en R10 000 kos.
In Langebaan kos ’n baan volgens haar ongeveer R200 per uur tydens goedkoper tye, of R400 tydens spitstye.
Die sport se groei word ook op jeugvlak gesien. In Langebaan word ’n Ladder League bekendgestel om spelers van verskillende vaardigheidsvlakke teen mekaar te laat speel. Kinderklinieke word aangebied en daar is planne om padel verder by skole te bevorder.
Vir Marshall is die gemeenskap wat rondom die sport ontwikkel het egter een van die belangrikste redes vir die sport se sukses.
Met digitale besprekingsplatforms kan spelers wedstryde reël en ander spelers ontmoet. Hoewel Suid-Afrika se padelbedryf nog relatief jonk is, glo Marshall die sport het reeds ’n plek in die plaaslike sportlandskap gevind.
In Langebaan groei die belangstelling vinnig, met spelers van verskillende ouderdomme en vaardigheidsvlakke wat die sport ontdek.

Pam Golding Ladies Vixens League
Een van die plaaslike hoogtepunte is die Pam Golding Ladies Court Vixens League, wat op Woensdag 16 September in Langebaan afgesluit is. Die liga het vrouespelers die geleentheid gebied om in ’n mededingende, maar sosiale omgewing hul vaardighede te toets.
In die hoofafdeling het Shona de Voogd en Justine Human van Net Worthy Vixens die liga as wenners afgesluit. Angelique du Toit en Shannon Ferreira van Court Queens het tweede geëindig, terwyl Megan Bekker en Marinda Marshall van Vixen Instinct die derde plek behaal het.
Lexi Coetzee en Lisa Hattingh van Court Vixens het die rughandafdeling gewen.
Die organiseerders het Pam Golding, Zest Health and Beauty Spa en Langebaan Country Estate bedank vir hul borgskap en ondersteuning van die toernooi.
Vir Marshall kan die bou van meer bane nie alleen die sport laat groei nie. Die mense wat die bane gebruik en die gemeenskappe wat om dit ontstaan, bou die sport.
Om ‘n padelbaan te bou is duur. Sy nooi mense dus uit om die baan by die Langebaan Country Estate te kom gebruik.
Blaai gerus deur die fotogalery deur Alida Buckle.


















You must be logged in to post a comment.