Bergfiets-entoesiaste en liefhebbers van die buitelewe kan op Saterdag 3 Oktober hul fietse regkry vir Rotsvas Gemeente se Mountain Bike Challenge in Jacobsbaai en die omliggende plase.
Die uitdaging bied deelnemers die keuse tussen twee roetes van onderskeidelik 15 km en 25 km, wat hulle deur die skilderagtige omgewing van Jacobsbaai en omliggende plaasgebiede sal neem.
Deelnemers wat die uitdaging voltooi, kry ook die geleentheid om ’n spesiale herdenkings-T-hemp te bestel. Daar is verder talle pryse op die spel, wat die dag nog meer opwindend vir deelnemers maak.
Die hoofborge van die uitdaging is EPR Sekuriteit en Green Bin Waste Solutions. Ander borge sluit Coke Depot Vredenburg, Bean & Leaf Restaurant in Jacobsbaai, Daai Plekkie in die Baai, Frankia Fietse, Langebaan Cycles en Bike Addict van Malmesbury in.
Na afloop van die bergfietsuitdaging word ’n Kersmark aangebied, waar deelnemers en besoekers hulself aan ’n verskeidenheid lekkernye, eetgoed, vars plaasprodukte en handgemaakte geskenke kan verlustig.
Die geleentheid bied nie net ’n dag van sport en gemeenskap nie, maar ondersteun ook belangrike plaaslike projekte. Alle inskrywingsfooie gaan ten bate van die opgradering van Rotsvas Gemeente se fasiliteite en die Hulp van Bo-fonds, wat hulp aan behoeftige mense in die breë gemeenskap bied.
Vir verdere inligting kan Pieter Bornman by 079 525 3150 of Nico Greyling by 079 303 6110 geskakel word.





