HOPEFIELD – Die VF Plus sê hy bly gekant teen die Phelan Green Group (PGG) se omstrede sonkrag- en sintetiese vliegtuigbrandstofprojek buite Hopefield, totdat die wet sigbaar, volledig en afdwingbaar nagekom is.
In ‘n plasing op sosiale media gister ( Donderdag 17 September), versoek die party se verkiesingskandidate in die Saldanhabaai Munisipale-gebied, dat ‘n volledige plan, insluitend enige toekomstige uitbreiding, deursigtig op die tafel moet wees:
Op versoek van VF Plus-lede in Hopefield, wil die VF Plus, Saldanhabaai-mMunisipaliteit, hul posisie t.o.v. die beplande eSAF- en sonkragaanlegte duidelik maak.
Ons siening is as volg:
Meer as 3-duisend hektaar fynbos, ons akwifer, ons water en die estetiese karakter van Hopefield mag nie opgeoffer word vir vae beloftes van vooruitgang nie.
Die party sê om die mense van Hopefield te beskerm, word vyf bindende waarborge versoek ten opsigte van water, die omgewing, verkeer en veiligheid, deursigtigheid en afdwingbaarheid en werkskepping:
Die beskerming van Hopefield se munisipale drinkwater, gryswater, grondwater en akwifer moet onderhewig wees aan onafhanklike, deurlopende monitering en onmiddellike ingryping en produksiestaking indien veilige grense oorskry word.
Daar moet geen besoedeling of onaanvaarbare skade aan grond, fynbos, water, vleilande, en biodiversiteit wees nie.
‘n Volle, voldoende en wetlik-afdwingbare finansiële waarborg vir rehabilitasie moet in plek wees.
Die Phelan Green Group (PGG) moet die volle koste dra van nodige padinfrastruktuur, verkeersbestuur en noodreaksie vir die duur van die aanleg se produksie-lewensduur.
Alle data en verslae moet permanent op ‘n publieke platform aan die publiek beskikbaar wees. Voorwaardes moet wetlik bindend wees, met finansiële sekuriteit en die sterk moontlikheid van produksie-opskorting by nie-nakoming daarvan.
Minstens 75% van alle ongeskoolde en semi-geskoolde poste moet deur Hopefield-inwoners gevul word, met meetbare en afdwingbare permanente, plaaslike werkskepping teikens. Die plaaslike besighede moet voorkeurverkrygingsgeleenthede geniet, onderhewig aan normale verkrygingstandaarde.
Die mense van Hopefield verdien om gehoor te word.
Genoeg is nou genoeg.
Weslander het reeds berig oor bekommerde inwoners in Hopefield wat verbete vasskop teen ‘n beoogde multimiljard-rand brandstofaanleg en reuse-sonplaas vlak buite dié plattelandse Weskusdorp.
Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstof-verwerkingsaanleg van sowat R50-miljard vir die vervaardiging van tonne elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat per pad vanaf Hopefield na die Saldanhahawe vervoer sal word vir uitvoere na onder meer Europese lande.
Die oud-burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, André Truter, wat intussen Hopefield toe verhuis het, is in ‘n senior bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.
Hopefield is ‘n plattelandse dorp in die Saldanhabaai Munisipale-gebied (SBM) en is bekend vir sy unieke fynbos, heuningproduksie, toerisme en landbouaktiwiteite. Sommige inwoners en omgewingsaktiviste meen dié Weskuskarakter van die dorp word nou ernstig bedreig deur die beoogde nywerheidsontwikkeling.
Selfs eiendomstransaksies is reeds in die spervuur weens beweerde kansellasies deur voornemende kopers.
Die duur projek sal duisende hektaar bestaande landbougrond beslaan as dit voltooi is, terwyl duisende sonpanele bestaande inheemse en bedreigde plantegroei sal vervang. Dié beoogde sonplaas word as die grootste in die land beskryf.
Die omstrede brandstofprojek geniet egter reeds die goedkeuring en steun van die nasionale én provinsiale regerings, met konstruksiewerk wat blykbaar na verwagting in 2027 sal begin.
Die projek het egter steeds verskeie goedkeuringshekkies wat oorkom moet word.




