Ontsetelde raadslid in Saldanhabaai-munisipaliteit vat VF+ hof toe

Jaco Kotze.

Ontsetelde raadslid in Saldanhabaai-munisipaliteit vat VF+ hof toe


Die ontsetelde VF Plus-raadslid in die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), Jaco Kotze, het die party gedagvaar vir sowat R28 000 wat hy onder protes betaal het, nadat hy met onmiddellike skorsing gedreig is. Hy beweer die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ‘n finansiële ooreenkoms eensydig verander en hom daarna aan ‘n onbehoorlike dissiplinêre proses onderwerp.

Die kern van Kotze se klag lê by ‘n ooreenkoms van 30 Junie 2021 wat uitdruklik bepaal dat indien hy nie betaal nie, die party hom na ‘n hof moet neem – nie voor ‘n interne tribunaal verhoor nie. “Die ooreenkoms sê uitsluitlik en uitdruklik: As ek nie betaal nie, moet ek bedank. As ek nie bedank nie, moet hulle my hof toe vat. Hulle kan my nie met ‘n dissiplinêre verhoor aankla nie,” het Kotze in ‘n stemnota gesê.

Hy beweer hy het sy getekende ooreenkoms 100% nagekom. Volgens die ooreenkoms moes hy 20% op sy eerste maand se bruto salaris en 2,5% op sy bruto stadsraadstoelaag betaal. “Die VF Plus het egter later eensydig ander eise gestel. Hulle wou skielik hê die persentasies moet op my totale bruto inkomste – salaris én toelaes – bereken word,” het hy gesê.

Gedwonge betaling

In April 2023 het die VF Plus na bewering Kotze gedreig met onmiddellike skorsing indien hy nie voor 26 April 2023 die addisionele geld betaal nie – ten spyte daarvan dat hy volgens sy ooreenkoms reeds opbetaal was.

“Ek het onder protes betaal om dit later uit te sorteer. Hierdie mense het my eenvoudig van pillar to post gestuur. Dit was duidelik dat hulle my nie te woord wou staan nie,” het hy gesê.

‘Geen dispuutproses’

Toe hy probeer het om ‘n dispuut te verklaar, is hy glo meegedeel dat daar “in die Vryheidsfront Plus nie dispuutprosesse bestaan nie”.

“Hulle het gesê hulle gaan my eerder dissiplinêr aankla, en dan kan ek my saak kom stel. Die uitkoms daarvan, natuurlik, is dat hulle my gaan skors,” het Kotze gesê.

Hy beweer die party het die bepalings van die ooreenkoms omseil deur hom intern voor ‘n tribunaal te verhoor, in plaas daarvan om hom na ‘n hof te neem. “Dis onbehoorlik. Daar was geen regverdige proses nie. Die tribunaallede werk onder instruksie, hulle is nie objektief nie. Dit was duidelik dat hierdie mense met voorbedagte rade opgetree het,” het hy gesê.

Hy het 15 Oktober 2025 teen ‘n aanvanklike skuldigbevinding geappelleer, maar die Federale Raad het sy appèl vanjaar op 13 Mei verwerp en sy lidmaatskap met onmiddellike ingang beëindig.

Kotze beweer dokumentasie, wat reeds in Maart of April 2026 – voor die appèl afgehandel is – aan die media gelek is, het uitdruklik gesê hy sal geskors word en dat hy met Anton Jansen vervang sal word. Jansen is 26 Mei as raadslid in sy plek ingelyf. “Dit bewys dit was met voorbeagte rade. Die uitkoms was reeds voorafbepaal.”

Kotze het reeds in November 2025 ‘n dagvaardiging teen die party uitgereik vir die R28 000 wat hy onder protes betaal het. Die saak is op die party se versoek teruggehou totdat die appèlproses afgehandel is.

Kotze dagvaar drie respondente: Corné Mulder (nasionale leier van die VF Plus) in sy persoonlike hoedanigheid, Erika Rossouw-Botha (provinsiale sekretaris van die Wes-Kaap) in haar persoonlike hoedanigheid, en die Vryheidsfront Plus as organisasie. “Die saak waarna ek hier verwys, is aangaande gelde wat ek onder protes te veel betaal het in 2023 en terugeis,” het Kotze gesê. Hy beweer hy moet binne 15 dae redes ontvang waarom sy appèl van die hand gewys is.

“PAJA bepaal dat alle administratiewe besluite met redes gepaard moet gaan – behalwe blykbaar in die VF Plus,” het hy gesê.

VF Plus se weergawe

Die VF Plus het in ‘n amptelike brief aan die SBM bevestig dat Kotze se lidmaatskap beëindig is weens oortreding van die party se reëls.

In die brief, onderteken deur Wouter Wessels (federale voorsitter) en Pieter de Necker (uitvoerende beampte), staan daar dat die besluit “eenparig by ‘n behoorlik saamgestelde vergadering van die Federale Raad op 13 Mei 2026 geneem is”. “In terme van die party se grondwet is die besluit van die Federale Raad finaal. As gevolg van sy beëindigde lidmaatskap kwalifiseer hy nie meer in terme van wetgewing om ‘n raadslid te wees nie,” lui die skrywe aan munisipale bestuurder Henrich Mettler en Speaker Olwene Daniels.

Die VF Plus het die munisipaliteit versoek om die vakature vir die proporsionele verteenwoordigende posisie te verklaar.

Dr Corné Mulder, leier van die VF Plus, het in reaksie op navrae van Weslander gesê die party sal nie verder op die aantygings reageer nie omdat Kotze se prokureur reeds ‘n skrywe gestuur het wat sekere besonderhede aanvra. “Kotze het vroeër reeds aangedui dat hy oorweeg om die prosesse gevolg deur die VF Plus hierin op hersiening te neem. Ons het ook intussen ‘n skrywe van sy prokureur ontvang wat sekere besonderhede aanvra. Die VF Plus sal daarmee handel. Dit sal derhalwe onvanpas wees om nou verder hierop te antwoord.”

Mulder het bevestig dat Jansen die party se nuwe raadsid in die SBM is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 28 May 2026
    Weslander E-Edition – 28 May 2026

Gift this article