Bekommerde inwoners van Weskusdorpe soos Hopefield, Saldanha en Langebaan by die gebied buite Hopefield waar ‘n omstede energieprojek beplan word. Van links is Jenine Spamers, David Harper, Yvonne Kitchin, Owen Kitchin en Des Coetzee. Foto: Danie Hefers

Aksiegroep beveg reuse-nywerheidsprojek langs Hopefield

Bekommerde inwoners van Weskusdorpe soos Hopefield, Saldanha en Langebaan by die gebied buite Hopefield waar ‘n omstede energieprojek beplan word. Van links is Jenine Spamers, David Harper, Yvonne Kitchin, Owen Kitchin en Des Coetzee. Foto: Danie Hefers

Bekommerde inwoners in Hopefield skop verbete vas teen ‘n beoogde multimiljardse brandstofaanleg en reuse-sonplaas vlak buite dié plattelandse Weskusdorp.

Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstof-verwerkingsaanleg van byna R50 miljard vir die vervaardiging van tonne elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat per pad van Hopefield na die Saldanhahawe vervoer sal word vir uitvoere na onder meer Europese lande.

Die voormalige burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), André Truter, wat intussen na die Hopefield-omgewing toe verhuis het, is in ‘n senior bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.

'n Kaart van die voorgestelde ontwikkeling by Hopefield.
‘n Kaart van die voorgestelde ontwikkeling by Hopefield. Foto: Politicsweb

Hopefield is ‘n plattelandse dorp, bekend vir sy unieke fynbos, heuningproduksie, toerisme en landbouaktiwiteite. Inwoners en omgewingsaktiviste meen dié Weskuskarakter van die dorp word deur die beoogde nywerheidsontwikkeling bedreig.

Die omstrede energieprojek sal duisende hektaar bestaande landbougrond beslaan wanneer dit voltooi is, terwyl duisende sonpanele bestaande inheemse en bedreigde Weskusplantegroei sal vervang. Die beoogde sonplaas word as die grootste in die land beskryf.

Hopefield stig aksiegroep

‘n Gemeenskapsaksiegroep, die Hopefield Environmental Petition Group, is intussen in die dorp van stapel gestuur om die projek te beveg.

Volgens Janine Spamers, die organiseerder van dié groep, is ‘n kennisgewing van voorneme die afgelope Maandag (20 Julie) aan staatsdepartemente, plaaslike regerings, projekkonsultante en verskeie bewaringsorganisasies gestuur, waarin aangedui word dat die Hopefield-aksiegroep tot die stryd toetree en beoog om later ‘n amptelike gemeenskapsbeswaarskrif, met onder meer onafhanklike omgewingsstudies, in te dien.

Die groep, wat onder meer bekommerde inwoners en grondeienaars verteenwoordig, gaan ook as ‘n belanghebbende en geaffekteerde party registreer en versoek dat die tydperk vir openbare kommentaar met 90 dae verleng word wanneer die konsepomgewingsimpakverslag (EIA) vrygestel word.

In die aksiegroep se konsep-beswaarskrif word onder meer versoek dat die beoogde brandstofaanleg eerder in bestaande nywerheidsgebiede met die nodige infrastruktuur, soos Saldanha, Mosselbaai in die Suid-Kaap en Atlantis buite Kaapstad, gebou word.

“Die aksiegroep versoek ook dat die belangrike openbaredeelnameproses (PPP) met 90 dae verleng word en dat die basiese assesseringsproses ongeldig verklaar word weens onvoldoende openbare deelname en ‘n gebrek aan spesialisstudies.”

In die skrywe maak die aksiegroep amptelik beswaar teen die beoogde ontwikkeling en eis dat geen omgewingsgoedkeuring of watergebruikslisensies toegestaan word voordat alle bekommernisse behoorlik aangespreek en onafhanklik gestaaf is.

Volgens die beswaarskrif sal die beoogde ontwikkeling byna 6 000 hektaar bedreigde plantegroei vernietig, tot die verlies van waardevolle landbougrond lei en ‘n ernstige bedreiging vir natuurlike waterbronne, vleilande en voëllewe inhou.

“Die projek sal die bestaande plattelandse landboulandskap in ‘n swaar nywerheidsgebied verander. Dit sal die regte van toekomstige geslagte opoffer vir korttermyn voordele.”

Openbare druk word ook op betrokke owerhede uitgeoefen om die projek se status as strategiese geïntegreerde projek (SIP) te kanselleer.

Volgens dié status word die brandstofprojek as ‘n belangrike nasionale projek deur die onderskeie regeringsvlakke beskou en daar bestaan verskeie wettige meganismes wat projekte soos dié help om vinniger deur goedkeuringsprosesse te beweeg.

Dié “groen” waterstofprojek het dié status reeds in 2023 ontvang en staatsdepartemente word aangemoedig om omgewingsgoedkeurings, waterlisensies en ander permitte vir dié soort projekte so vinnig as moontlik af te handel.

Tender reeds uitgereik

Weslander het intussen betroubaar verneem dat ‘n tenderproses blykbaar reeds begin is om die verbindingspad tussen Hopefield en Velddrif te verbeter, moontlik in aanloop tot ‘n beoogde ontsoutingsaanleg in die Velddrif/Dwarskersbos-kusgebied.

Die Wes-Kaapse regering, en veral die provinsie se premier, Alan Winde, is ‘n voorstander van die vestiging van waterstofprojekte in die Weskus.

Vrae word egter nou geopper oor of die premier kennis gedra het van die besluit om die Weskus se beoogde multimiljardrand-waterstofaanleg van die bestaande nywerheidsgebied in Saldanha na die platteland buite Hopefield te skuif – ‘n ingrypende besluit wat blykbaar binne ‘n tydperk van slegs sowat ses maande geneem is.

Die Hopefield Environmental Petition Group se logo.
Die Hopefield Environmental Petition Group se logo.

Weslander wou by Winde se kantoor weet of die premier betrokke en bewus was van dié drastiese verskuiwingsbesluit en of hy dit steun.

Volgens Kristoff Adelbert, ‘n direkteur in die premier se kommunikasieafdeling, raak die Wes-Kaapse regering en sy amptenare nie betrokke by besluite om projekte van dié omvang te bou nie, maar berus dit in die hande en oordeel van die betrokke ontwikkelaars.

Volgens Adelbert is daar tans minstens sewe beoogde waterstofprojekte in die provinsie in die pyplyn en word Winde deurentyd ingelig oor beoogde projekte in die provinsie. Hy het die premier se ondersteuning vir verskeie voorgestelde waterstofprojekte benadruk.

“Die premier ondersteun robuuste publieke deelname en raadpleging vir alle voorstelle. Die Wes-Kaapse regering is toegewyd daaraan om omgewingsbeskerming te balanseer met volhoubare ekonomiese ontwikkeling. Verantwoordelike beleggings en ontwikkeling is noodsaaklik vir ekonomiese groei, werkskepping en die verbetering van mense se lewens- gehalte,” lui die verklaring uit die premier se kantoor.

Aansoek by munisipaliteit

Weslander het ook die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) vroeër vir kommentaar oor die beoogde Hopefieldprojekte genader, en wou onder meer weet weet of die SBM bewus is van die beoogde sonplaas én brandstofaanleg in Hopefield, wat die munisipaliteit se rol in die projekte en goedkeuringsprosesse is of was, en of die SBM ten gunste van die projekte is.

Die SBM is ook gevra of hulle as die plaaslike regering ‘n grondgebruiksaansoek vir die projek ontvang het. Die SBM se kort en bondige kommentaar was dat daar ‘n aktiewe stadsbeplanningsaansoek deur die Phelan Green-groep by die SBM ingedien is. Volgens die SBM is geen stadsbeplanningsaansoek met betrekking tot ‘n waterstof-/e-SAF-fasiliteit egter deur hulle ontvang ten opsigte van eiendom wat deur die Phelan Green-groep in die Hopefield-omgewing besit word nie.

◘ Kontak die aksiegroep by 072 225 3731 (WhatsApp) met navrae. Die petisie is by die Hopefield-biblioteek beskikbaar.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 23 July 2026
    Weslander E-Edition – 23 July 2026

Gift this article