Openbare teenstand en kommer oor ‘n multibiljoenrand-brandstofprojek digby Hopefield is besig om toe te neem, en nie net vou omgewingsaktiviste hul arms teen dié beoogde “groen” waterstof- en eSAF-aanleg nie, maar die Aikonese Cochoqua Erfenis-bewaringsliggaam eis nou dat omgewings-en erfenisprosesse onmiddellik opgeskort word en dat die openbaredeelnameproses heropen word.
Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstof-verwerkingsaanleg van byna R50-biljoen vir die vervaardiging van tonne elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat blykbaar vir uitvoere na onder meer Europese lande per pad na die Saldanhahawe vervoer sal word.
André Truter, voormalige burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) wat intussen Hopefield toe verhuis het, is in ‘n bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.
Volgens Kevin Maart, die Aikonese Cochoqua-groep se stamhoof en woordvoerder, is die beoogde projek geensins “groen” nie. “Dit is ‘n grootskaalse chemiese raffinadery. Ons kan nie toelaat dat ‘n ‘Sasolburg by die See’ geskep word sonder deursigtigheid, aanspreeklikheid of die toestemming van die gemeenskap nie. Dié projek sal die Weskus permanent verander.”
Volgens Maart sal die projek in een van die mees sensitiewe ekologiese gebiede in die Weskus gevestig word, wat ‘n bedreiging sal inhou vir die gebied se waardevolle Hopefield-sandfynbos, Renosterveld, die Elandsfontein-akwifeer en twee Ramsar-vleilande.
“Dit is ‘n grootskaalse chemiese raffinadery met 2,6 miljoen sonpanele wat oor 3 000 hektaar strek. Die risiko’s vir grondwater, vleilande en brandgevoelige landskappe is uiters hoog. Die omvangverslae is onvolledig. Belangrike inligting ontbreek, insluitend die impak van biomassa-verbranding, besonderhede oor gevaarlike afval en behoorlike grondwatermodellering. Inheemse erfenis is geïgnoreer. Die terrein val binne die Cochoqua-kultuurlandskap en geen konsultasie met inheemse gemeenskappe het plaasgevind nie.”
Maart meen die openbare deelnameproses was onvoldoende, gemeenskappe is nie behoorlik ingelig nie en aansoeke word in gefragmenteerde dele deurgedruk.
Intussen gaan ‘n beoogde gemeenskapsvergadering om die omstrede projek te bespreek voort. Dit vind môreaand (Woensdag, 24 Junie) om 18:30 in Hopefield plaas.
Volgens Nicola Viljoen, die voorsitter van die Weskus Omgewing Bewaring-assosiasie (WOBA), is die vergadering egter van die Commercial-hotel na die NG-kerksaal in die dorp verskuif. “Dit is groter en die vergadering is oop vir almal wat meer inligting oor die voorgestelde industriële ontwikkeling verlang om sodoende ‘n ingeligte besluit oor die projek te kan maak.
Dit gaan oor die statutêre prosesse (vir die verskillende aansoeke) wat Phelan moet volg om goedkeuring vir die voorgestelde projek te kry, die moontlike impakte wat deur WOBA se kundiges geïdentifiseer is, hoe die openbare deelname proses werk en hoe die mense van die Weskus konstruktief betrokke kan raak.”




