Kommer broei oor ‘n omstrede beoogde multimiljardrand-brandstofaanleg en reuse-sonplaas op Hopefield se sensitiewe landelike voorstoep.
Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstofverwerkingsaanleg van byna R50 miljard vir die vervaardiging van tonne elektro- volhoubare lugvaartbrandstof (eFUEL), wat blykbaar per pad na die Saldanhahawe vir uitvoer na onder meer Europese lande vervoer sal word.
André Truter, die voormalige burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, wat intussen na Hopefield verhuis het, is in ‘n bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.
Die Services To Our People’s Party (STOPP) het in ‘n mediaverklaring sy kommer uitgespreek oor dié duur projek en meen ernstige vrae bestaan oor openbare vertroue. Volgens Peter Plaatjies, die party se nasionale leier en woordvoerder, gaan dit nie net oor hernubare energie nie, maar toenemend oor deursigtigheid, openbare vertroue en die reg van gemeenskappe om antwoorde te ontvang voordat besluite geneem word wat hul toekoms vir komende geslagte kan beïnvloed.
STOPP het ‘n beroep op die Saldanhabaai-munisipaliteit, die departemente van Minerale en Petroleumhulpbronne, Water en Sanitasie en Bosbou, Visserye en die Omgewing gedoen om volledige deursigtigheid oor die projek te verseker.
“Ons vra ook dat alle verwante dokumentasie, omgewingsimpakstudies, watergebruiksaansoeke, openbare deelname- verslae en goedkeuringsprosesse maklik vir die publiek toeganklik gemaak word.
Die inwoners van Hopefield en die breër Weskus verdien duidelike antwoorde op belangrike vrae. Hoeveel water word benodig? Wat is die uitwerking op landbougrond en voedselsekerheid? Hoeveel permanente plaaslike werksgeleenthede gaan geskep word? Hoe gaan die natuurlike omgewing beskerm word?”
Die publiek en belangstellendes kon tot die afgelope Maandag (8 Junie) op die konsep-omvangsverslag (Draft Scoping Report) kommentaar lewer.
Miles Masterson, woordvoerder van die omgewingsdrukgroep Protect the West Coast, bevestig dat die plaaslike opofferings vir Hopefield ongelooflik groot is en dat die ligging van die brandstofaanleg hoogs omstrede is.
Hy is bekommerd oor die kumulatiewe uitwerking wat mynbou- en nywerheidsaktiwiteite op die Weskus het. “Om ‘groen’ brandstof te skep, het jy water nodig om in waterstof op te breek. Ironies genoeg beplan hierdie ‘groen’ projek om tot 175 000 kubieke meter grondwater per jaar uit ‘n hoogs deurlatende akwiferstelsel te onttrek. Dit is riskant, want die beoogde terrein is as ‘n gebied met ‘n hoë kwesbaarheid vir besoedeling geïdentifiseer. Enige oppervlaklekkasies van nywerheidsafvalwater het ‘n direkte ondergrondse kortpad na die Soutrivier. Van daar af vloei dit reguit na die Langebaan-strandmeer, ‘n beskermde Ramsar-vleiland en die kroonjuweel van die Weskus Nasionale Park.”
Volgens PTWC is die beoogde projek ‘n bedreiging vir onder meer die seldsame inheemse Hopefield-sandveldfynbos en skaars voëlsoorte soos die bedreigde witbors-vleivalk en kwesbare swartkorhaan.
“Die vestiging van swaarnywerhede, tenkwa-verkeer en die berging van gevaarlike chemikalieë bedreig hierdie voëls direk. Geen alternatiewe liggings vir die projek is beoordeel nie,” sê Masterson.
Volgens Jacques van der Westhuizen, die ondervoorsitter van die Weskus-omgewingsbewaringsassosiasie (WOBA), is die beoogde sonplaas en brandstofaanleg “in wese een projek”. WOBA het onder meer lede in Hopefield en Langebaan.
“Projekverdeling of ‘salami slicing’ in ‘n omgewingsimpakbeoordeling (EIA) is ‘n onwettige en onetiese praktyk om ‘n groot- skaalse ontwikkeling in kleiner, aparte aansoeke te verdeel om sodoende omgewingsondersoeke doelbewus te vermy of te minimaliseer. Daar is nie duidelikheid of hierdie projek volhoubaar is nie, wat die potensiële impakte gaan wees en hoe die impakte gemitigeer gaan word nie.”
Volgens Van der Westhuizen gaan die beoogde ontwikkeling ‘n impak hê op die hele Weskus, en nie net op Hopefield nie.
“Die blote feit dat daar ‘n foutiewe persepsie is dat die ontwikkeling slegs ‘n impak op Hopefield gaan hê, is op sigself ‘n aanduiding dat daar nie voldoende openbare deelname plaasgevind het nie.”
Van der Westhuizen sê daar is verskeie prosesse wat die ontwikkelaar moet volg om omgewingsgoedkeuring vir die projek te kry. WOBA het al verlede jaar kommentaar op die grondgebruikstoestemmingsaansoek vir die sonplaas by die SBM ingedien, maar hulle sloer glo al langer as ‘n jaar om daaroor te besluit. Weslander het nog nie terugvoer op navrae aan die Phelan Green-groep in Kaapstad gekry nie.



