‘n Naweek en vakansiewegbreek het vir ‘n vrou van Kaapstad in teleurstelling verander.
Dit nadat sy ‘n deposito vir verblyf in Langebaan vir die komende naweek (12 Junie) en ‘n naweek in Desember betaal het, maar als verloor het.
Die vrou, wat anoniem wil bly, is deur ‘n sogenaamde “Suzette du Preez” met altesaam R6 150 ingeloop.
Volgens die slagoffer het sy die advertensie vir die luukse woning in “75 Park-rylaan, Langebaan” op TikTok gesien.
Dit is deur ene Du Preez geplaas en die slagoffer het beplan om haar verjaarsdagnaweek daar te vier, asook om in Desember haar familie te bederf.
“Ek het eers probeer bel, maar toe ek nie deurkom nie, het ek ‘n boodskap gestuur om te vra of die datums beskikbaar is.
“Die persoon het op WhatsApp teruggekom en bevestig dat die datums wel beskikbaar is, en ons het daarna heelwat op WhatsApp gekommunikeer.”
Die vrou sê Du Preez het voorgekom as ‘n jong vrou met ‘n gesin en iemand wat opreg is. Een van die eerste gevaartekens wat die vrou wel opgemerk het, was toe die skakel vir die TikTok-advertensie nie meer beskikbaar was nie.
“ ’n Paar dae later wou ek die foto’s weer vir iemand wys. Toe ek die WhatsApp-gesprek oopmaak, het ek gesien dat dit heel anders is en ek nie ‘n boodskap kan stuur nie. Dit het gelyk asof die nommer nie meer aktief is of dat ek verwyder is.
“Die volgende dag het ek probeer bel, maar die oproepe het direk na voicemail gegaan. Ek het ook ‘n e-pos gestuur na die adres wat op die faktuur verskyn het, maar die e-pos het teruggebons.”

‘Ek is bedrieg’
“Kollegas het toe aangebied om die nommer te ondersoek. Een van hulle het die nommer op Truecaller nagegaan, waar waarskuwings verskyn het dat die nommer met deposito-bedrog verbind word. Dit was die oomblik toe dit duidelik geword het: Ek is bedrieg.”
Met die terugdinkslag het die vrou besef dat daar ‘n paar tekens was wat sy misgekyk het, juis omdat sy opgewonde vir die wegbreek was. Sy het met FNB se bedrog-eenheid kontak gemaak en ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak. Vir haar verjaarsdagnaweek het sy gelukkig alternatiewe verblyf deur Airbnb gekry.
‘n Gasvrou in Langebaan het met Weslander gedeel dat dit hierdie voorval haar frustreer, maar ook haar verbintenis versterk om vir gaste te wys dat daar wel opregte mense in die industrie is.
“Vir elke negatiewe storie is daar ontelbare positiewe ervarings waar gaste veilig voel, goed versorg en aangenaam verras word. Persoonlik sien ek dit as motivering om standaarde voortdurend te verhoog, openlik te kommunikeer en gaste daaraan te herinner dat daar gashere is wat hierdie werk as ‘n roeping beskou, nie bloot as ‘n besigheid nie. Dit is ‘n geleentheid om die goeie in die bedryf te beklemtoon.”
Dit het ook onder Weslander se aandag gekom dat ene “Suzette du Preez” met nóg ‘n deposito van ‘n vrou in Kaapstad verdwyn het. Dié Kaapse vrou raai mense aan om van platforms soos Airbnb, Booking.com en LekkeSlaap gebruik te maak. “Daar is steeds risiko’s, maar dit bied gewoonlik meer beskerming. Die belangrikste les is eenvoudig: As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik nie waar nie.”





