Op 33 jaar het Monique Bolton die waarheid in die oë moes kyk: alkohol was nie meer iets wat sy beheer het nie, dit het háár beheer.
“Al die jare het ek gedink ek is in beheer,” vertel sy. “Maar daar kom ‘n tyd wanneer jou hele dag se roetine om alkohol draai en jy nie meer daarsonder kan funksioneer nie.”
Wat eens begin het as iets wat plesier gebring het, het geleidelik verander in iets veel donkerder. Sy het plekke vermy waar daar nie alkohol was nie, haarself al hoe meer van ander afgesonder en uiteindelik agter geslote deure gedrink. “Wanneer die lekker daarvan eensaamheid word, weet jy iets is verkeerd. Ek wou nooit aanvaar dat alkohol ‘n probleem was nie.”
Die pad na herstel was egter nie eenvoudig nie. Volgens Monique was sy self haar grootste struikelblok. “Ek wou nie myself aan AA oorgee nie. Ek was bang. Bang oor hoe ek sou oorleef sonder alkohol.”
Dit was deur Alkoholiste Anoniem (AA) dat sy geleer het om haar lewe weer dag vir dag aan te pak.
“AA het my geleer om sekere plekke, mense en dinge te vermy, en om alles een dag op ‘n slag te vat.”
Die impak van haar verslawing het byna elke aspek van haar lewe geraak. Sy beskryf haarself in daardie tyd as iemand wat bloot bestaan het. “Ek was soos ‘n zombie. Ek kon nie funksioneer sonder alkohol nie.”
Haar verhoudings het verbrokkel, haar selfbeeld het gekwyn en sy het haarself begin verloor. “Die laaste verhouding waarin ek was, was chaoties. Familie en vriende het my nie meer vir kuiers genooi nie omdat hulle skaam was vir my. My selfbeeld was aan skerwe. Ek het nie omgegee hoe ek lyk nie.”
Seergemaak
Vandag klink haar stem anders, sterker, rustiger en vol dankbaarheid.
“Ek leef voluit. Ek leef met ‘n vaste fondasie en ‘n sterk verhouding met God wat eerste in my lewe is.”
Hoewel sy erken dat sy mense seergemaak het gedurende haar jare van alkoholmisbruik, hoop sy dat vergifnis met tyd sal kom. “Ek hoop die mense wat ek seergemaak het, kan my eendag vergewe. Ek is gelukkig. Ek bou verhoudings op ‘n vaste fondasie. My selfbeeld is terug. Ek kan weer lag en weer vir myself in die spieël kyk.”
Volgens haar bestaan daar steeds baie wanopvattings oor alkoholisme.
“Mense dink die persoon het geen wilskrag nie en wonder hoekom hulle nie net kan ophou nie. Vir ‘n alkoholis werk dit nie so nie.”
Sy beskryf alkoholisme as ‘n siekte wat begrip, ondersteuning en hulp vereis. “Ek het baie kere gesê dit is my laaste drankie, maar ek kon dit nooit deurvoer nie. Mense moet hulself oor alkoholisme opvoed voordat hulle oordeel.”
Afgeskeep
Vir diegene wat vandag vasgevang voel in verslawing en bang is om hulp te vra, het Monique ‘n eenvoudige maar kragtige boodskap. “Ek was ook bang. Maar daar is ondersteuningsgroepe waar mense verstaan waardeur jy gaan. AA is ‘n veilige plek waar jy genesing kan vind tussen mense wat dieselfde siekte beveg.”
Haar raad aan iemand wat huiwer om die eerste stap te neem? “Doen dit net. Stap net deur die deure. Jou vrees sal weggaan.”
Wanneer sy vandag terugkyk na die vrou wat sy eens was, voel sy nie oordeel nie, maar deernis. “Ek sou vir daardie persoon sê: Ek is jammer vir alles wat ek aan jou gedoen het. Ek het myself so afgeskeep en nooit besef daar is ‘n uitkomkans nie.”
Sy glo haar lewe het verander toe sy bereid was om hulp te aanvaar, die Twaalf Stappe te volg en haar geloof vas te gryp. “Daar is altyd hoop. God sal daardie kettings vir jou breek.”
Dan kom die woorde wat haar hele reis opsom: “Eers toe ek die bottel gif neersit, kon ek my lewe met goud vul.”





