Deursettingsvermoë, harde werk en toewyding het Jarnick Moses, ‘n leerder aan die Hoërskool Louwville, gebring waar hy vandag is: ‘n trotse graad-12-leerder by sy skool.
Hy dra sy matriekbaadjie met trots.
Moses het in 2019 met sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Louwville begin en het graad 9, 10 en 11 gedruip.
Die herhaalde terugslae het hom moedeloos en soos ‘n mislukking laat voel.
“Mense sê daar is nie ‘n ding soos ‘dom’ nie, maar ek het geglo ek is dom. In daardie stadium het ek regtig gedink ek sal nooit matriek klaarmaak nie,” vertel hy.
Tog het Moses geweier om sy droom te laat vaar.
Sy ouers was een van sy grootste motiverings om aan te hou, veral omdat hy hulle wou wys hy sal dit wel kan regkry.
“Vir my is dit ‘n groot voorreg om nog ‘n vader en ‘n moeder te hê. Soos almal weet, gaan dit nie altyd goed in ‘n huisgesin nie, maar dit het my die krag gegee om nie op te gee wanneer iets moeilik is nie.”
Hy wou ook aan homself, sy ouers en sy twee ouer broers, wat nie hul skoolloopbane voltooi het nie, bewys hy kon syne klaarmaak.
“Ek het gedroom van ‘n beter toekoms en ‘n beter werk, maar sonder matriek gaan ek nie ‘n goeie werk hê nie.”
‘n Ma se moeilike besluit
Een van die oomblikke wat Moses die meeste bygebly het, was toe sy ma ná nog ‘n druipslag sy skoolklere weggegooi en gesê het hy moet gaan werk.
“Ek het baie sleg gevoel. Ek was kwaad en ‘n bietjie hartseer op dieselfde tyd. Ek het gedink sy glo nie meer in my nie,” vertel hy.
Met tyd het hy egter sy ma se besluit vanuit ‘n ander perspektief begin verstaan.
“Later het ek verstaan sy het dit nie uit haat gedoen nie. Sy was net moeg en bekommerd.
“Sy het gedink ek mors my tyd omdat ek elke keer druip, terwyl ek al ‘n inkomste vir die huis kon ingebring het.”
Sy ma se houding het intussen verander. Toe Moses verlede jaar sy rapport huis toe bring wat bevestig dat hy na graad 12 vorder, het sy gehuil.
Die oomblik wat alles die moeite werd gemaak het
“Toe ek uiteindelik daardie matriekhoed opsit, het alles net vir ‘n oomblik stil geraak binne-in my. Ek het onmiddellik teruggedink aan al daardie kere wat ek gedruip het en aan al die mense wat gesê het dat ek dit nooit sal maak nie. Toe besef ek: ek het dit gemaak.
“Ek het baie trots op myself gevoel.
“Ek het gehuil, maar dit was trane van blydskap. Ek het bewys dat dit nie saak maak hoe lank dit jou neem nie. Al wat saak maak, is dat jy nie te gou moet opgee nie.”
Hy onthou ook die invloed van sy laerskoolonderwyser Antony Muller, wat intussen oorlede is.
Muller was ook sy rugbyafrigter en het Moses ‘n lewensles geleer wat hy steeds saam met hom dra.
“Hy het eendag op die rugbyveld vir ons as span gesê: Wanneer ons rugby speel, tackle ons mekaar, ons val, ons staan weer op, ons hardloop weer en ons jaag mekaar. So gaan dit ook in die lewe. Jy moet val om weer op te staan.”
‘n Boodskap aan ander wat sukkel
Moses wil hê sy verhaal moet jongmense wat akademies sukkel, herinner dat ‘n druip nie die einde van die pad is nie.
“Jy is goed genoeg. Om te druip beteken nie jy is dom nie. Dit beteken net dit was ‘n bietjie moeiliker vir jou as vir ander.”
Hy waarsku jongmense ook om hulself nie met ander te vergelyk nie.
“Jou tyd sal kom. Ek het drie keer gedruip, ja, maar kyk waar is ek nou.
“As ek dit kan doen, kan jy dit ook doen.”





