Openbare teenstand teen die beoogde multimiljard-randse waterstof- en eSAF-brandstofprojek buite Hopefield neem toe. Die Aikonese Cochoqua-erfenis-bewaringsliggaam eis dat omgewings- en erfenisprosesse opgeskort en die openbaredeelnameproses heropen word.
Die Kaapse Phelan Green-groep beplan ‘n aanleg van byna R50 miljard vir die vervaardiging van elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF).
André Truter, die voormalige burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is in ‘n bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.
Volgens Kevin Maart, stamhoof en woordvoerder van die Aikonese Cochoqua-groep, is die ontwikkeling nie ‘n “groen”-projek nie, maar eerder ‘n grootskaalse chemiese raffinadery wat die Weskus permanent kan verander.
Maart voer aan die aanleg word in ‘n sensitiewe ekologiese gebied beplan en hou moontlike risiko’s vir die Hopefield-sandfynbos, Renosterveld, die Elandsfontein-akwifeer en Ramsar-vleilande in. Hy sê ook belangrike inligting oor grondwater, afvalbestuur en die uitwerking op inheemse erfenis ontbreek.
Verder meen hy die openbare-deelname-proses was onvoldoende en sê gemeenskappe is nie behoorlik geraadpleeg nie.
Intussen is ‘n openbare vergadering oor die projek gister (Woensdag 24 Junie) in die NG kerksaal in Hopefield gehou.
Volgens Nicola Viljoen, voorsitter van die Weskus-omgewing-bewaringsvereniging (WOBA), is die lokaal verander om meer belangstellendes te huisves.
Die vergadering sou fokus op die goedkeuringsprosesse wat gevolg moet word, moontlike impakte wat deur kundiges geïdentifiseer is, en hoe inwoners konstruktief aan die openbaredeelnamepro- ses kan deelneem.




