Die Weskus is dalk eersdaags nóg ‘n winkelsentrum ryker – dié keer in St. Helenabaai in die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM).
Die nuwe De Drift-winkelsentrum in Velddrif in die Bergrivier- munisipale gebied het onlangs sý deure geopen terwyl dorpe soos Vredenburg en Langebaan al geruime tyd met verskeie winkelsentrums pronk.
Kennisgewings vir die beplande eiendomsontwikkeling in St. Helenabaai is reeds op plaasheinings naby die Stompneusbaai-woonbuurt opgesit, waarmee kennis gegee word vir ‘n belanghebbende betrokkenheidsproses vir ‘n voorgestelde kleinhandelontwikkeling in die dorp.
Marais Geldenhuys, ‘n senior omgewingskonsultant van SRK Consulting, het bevestig dat die proses begin is, maar het benadruk dat dit tans nog net in ‘n “voorgestelde” beplanningsfase is, wat nog deur verskeie goedkeuringsprosesse moet gaan.
Die SOM GROUP (Pty) Ltd beoog om die kleinhandelsentrum op Gedeelte A van Gedeelte 4 van die plaas Duyker-eiland nr. 6 te ontwikkel. Die sentrum sal ‘n gebied van byna 14 000 vierkante meter verhuurbare oppervlakte beslaan.
Die kleinhandelkomponent sal deel wees van ‘n breër gemengde-gebruik-ontwikkeling wat sal bestaan uit ‘n aftreeoord, kleinhandel, leefstylwinkels, ‘n vulstasie en mediese geriewe.
Die voorgestelde vulstasie-ontwikkeling oorkant die Vredenburgpad, op Gedeelte B van Gedeelte 4 van die plaas Duyker-eiland nr. 6, sal bestaan uit onder meer ‘n diensstasie, twee deurry-restaurante, ‘n motorwasplek en ‘n parkeerterrein.
Inwoners en belangstellendes het nou die geleentheid om te registreer en kommentaar te lewer. Kontak Nadine Duncan by ctpp@srk.co.za of 021 659 3060.





