Riool loop uit waar dit nie moet nie. Foto: Danie Hefers
Riool loop uit waar dit nie moet nie. Foto: Danie Hefers

Die uitgestrekte veldgebied langs die gevestigde Falcon Crest-woonkompleks aan die westelike dorpsgrens van Vredenburg is ’n ideale groengebied vir fietsry, draf of stap met jou troeteldiere. Dit grens aan plaasgrond, met nabygeleë waterstrome, bome en digte riete.

Volgens Mark Marusich, ’n inwoner van Falcon Crest, is daar egter ’n voortslepende rioolprobleem wat al sedert 2022 dié idilliese natuurskoon soms vertroebel.

Mark by die mangat wat gereeld oorloop. Foto: Danie Hefers
Mark by die mangat wat gereeld oorloop. Foto: Danie Hefers

“Mangate wat gereeld oorloop en rou riool wat in veldgebied en plaasgrond vloei. Dit stink dan en lok vlieë, wat ’n gesondheidsrisiko skep en nabygeleë waterbronne kan besoedel en gevare inhou vir kinders, wildlewe, troeteldiere en vee,” sê Mark.

Volgens hom het hy reeds verskeie voorvalle van riool wat by mangate naby ’n munisipale riool-pompstasie in die gebied uitvloei, per e-pos by die Saldanabaai-munisipaliteit (SBM) se kantoor in Vredenburg aangemeld.

“Mei 2022, November 2023, Junie 2024, Desember 2025 én selfs vroeër die week in Januarie. Die SBM het wél reageer en opgetree, maar die probleem herhaal homself bloot weer en weer. Vir my is dit ’n aanduiding dat die infrastruktuur oud is en nie die behuisingsontwikkelings in die gebied kan hanteer nie. Dringende ingryping, ’n ondersoek na die oorsake en ’n langtermyn-oplossing is nou nodig. Ons is veronderstel om ’n slimdorp (smart city) te wees!”

Weslander berig gereeld oor inwoners en sakelui in dorpe soos Vredenburg, Paternoster en St. Helenabaai in die SBM-gebied wat die stank van rou riool, wat by mangate en pompstasies uitvloei, moet verduur.

Die stank van riool is van ver af duidelik. Foto: Danie Hefers
Die stank van riool is van ver af duidelik. Foto: Danie Hefers

In St. Helenabaai is daar ’n munisipale pompstasie waaroor ’n ontstoke inwoner gereeld by die munisipaliteit kla – steeds ’n lastige, stink kopseer wat nie wil wyk nie. ’n Plaaslike nuusdiens het reeds in 2024 oor gereelde riooluitvloei by die Brandhuis-pompstasie in die Agterbaai berig. Vroeër verlede maand is wéér voorvalle van riooluitvloei by dié pompstasie aangemeld.

In Paternoster was daar al sedert 1999 riooluitvloei by ’n mangat in een van dié bekende Weskusdorp se strate. Die jongste voorval waaroor Weslander berig het, was in April 2025 (Riool ‘loop al dekades’).

In Februarie 2025 het Weslander berig oor nóg beswaarde inwoners van St. Helenabaai wat gekla het oor die ondraaglike reuk wat hulle moes verduur weens riooluitvloei naby woonhuise (‘Swak diens’ pla inwoner).

Verlede maand het Weslander in sy uitgawe van 29 Januarie berig oor klagtes van inwoners in die Witteklip-woonbuurt in Vredenburg, wat kla oor die stank van riool (Inwoners moeg vir oorloop-riool). Volgens hulle val hul pleidooie egter op dowe ore.

Kommer bestaan al geruime tyd oor verouderde en onvoldoende infrastruktuur wat kreun onder die Weskus se snelle eiendomsgroei en vooruitgang. Honderde nuwe intrekkers vestig hulle jaarliks in dié gebied, terwyl verskeie nuwe inkopiesentrums hulle deure vir sakebedrywighede open.

Volgens die Services to Our People’s Party (STOPP) toon geouditeerde jaarrekeninge dat die SBM oor die afgelope drie jaar groot dele van sy kapitaalbegroting nie spandeer het nie. Volgens STOPP beloop dié beweerde “onderspandering” ’n stewige R270 miljoen.

In ’n mediaverklaring wat deur Peter Plaatjies, STOPP se woordvoerder, op 22 Januarie vanjaar uitgereik is, beweer STOPP dat dié aanhoudende onderspandering veroorsaak dat kritieke infrastruktuurprojekte vir water, riool, paaie, afvalbestuur en gemeenskapsontwikkeling oor jare vertraag is.

Weslander het van die mangate in Vredenburg, waar die riooluitvloeie plaasvind, verlede maand saam met Mark besoek. Tekens van riooloorblyfsels is steeds oral duidelik sigbaar by mangate en aangrensende veldgebiede.

Videobeeld wat hy met sy hommeltuig afgeneem het, staaf Mark se kommer en toon onder meer rou riool wat in ’n stroom na nabygeleë waterbronne vloei.

Volgens Mark sal hy wil sien dat die skuldiges verantwoordbaar gehou word.
“Dit is besoedeling van ’n veldgebied waar vee soms wei. Dit breek my hart om dit te sien.”

Onbehandelde rou riool wat in waterbronne beland, hou ernstige gevare in vir openbare gesondheid én die omgewing. Dit bevat skadelike patogene soos bakterieë, virusse en parasiete wat siektes soos cholera en hepatitis kan veroorsaak.

Weslander het die SBMop Dinsdag 27 Januarie per e-pos om kommentaar genader oor die gebied se rioolprobleem. Die munisipaliteit het tot dusver net ontvangs van die e-pos erken en gesê die versoek geniet aandag.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die plaaslike regering, Weslander het die Saldanhabaai Munisipaliteit vir kommentaar genader.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die SBM, gebeur gevalle van riooluitvloeie op ’n weeklikse basis en is dit verspreid oor die hele munisipale gebied.

“Riooluitvloeie en verstoppings kan enige tyd en sonder waarskuwing plaasvind en beteken nie noodwendig dat die oorsaak infrastruktuurverwant is nie. Die meeste verstoppings word veroorsaak deur vreemde voorwerpe wat in die rioolstelsel beland. In ’n mindere mate word verstoppings veroorsaak deur kapasiteitsprobleme, veral in die digbevolkte gebiede,” sê Lawrence.

Volgens Lawrence voer die SBM water- en rioolbeplanning uit volgens die vereistes van die departement van waterwese. Sy sê sulke planne word deur die Raad goedgekeur, en dat planne en begrotings opgestel word om die snelle groei van sekere dorpe te akkommodeer.

Lawrence voeg by dat die munisipaliteit meer as R100 miljoen begroot het vir sanitasie-verwante projekte in die 2025/2026 finansiële jaar. Sulke projekte sluit in pyplynnetwerke, pompstasies en fasiliteite vir die behandeling van afvalwater.

Nóg voorbeelde van oorloop-riool. Foto’s: Danie Hefers

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article