Van bloukop-koggelmander tot slangvanger, Ettienne Swanepoel se roeping om die Weskus se natuur te beskerm

Ettienne Swanepoel van Dwarskersbos Snake Rescue Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

Eendag lank gelede is ’n laerskoolseuntjie na die hoof se kantoor geroep omdat hy glo ’n maatjie wou ‘rol’. Ná ’n kort ondersoek het die waarheid uitgekom, die seuntjie het nie aangeval nie, maar ingegryp toe ’n groep kinders ’n bloukop-koggelmander met klippe bestook het.

Daardie seuntjie was Ettienne Swanepoel (58) van Velddrif, vandag bekend in die Weskus gemeenskap as die man wat jy bel wanneer ’n slang gevang, ’n voël gered of ’n beseerde dier hulp nodig het. Vir baie is hy eenvoudig die ‘go-to’ slangvanger en natuurbewaarder.

Ettiene Swanepoel.

Weslander het met Swanepoel gesels oor sy lewenslange passie vir die natuur en bewaring, ’n roeping wat reeds op skoolbanke begin het en vandag ’n groot deel van sy daaglikse lewe opneem.

“Die eerste opdrag wat God aan die mens gegee het, is om na die aarde en diere daarop te kyk,” het Swanepoel vertel en verduidelik dat natuurbewaring nie net ‘n passie vir hom is nie, maar dat dit ook sy roeping is.

Swanepoel het grootgeword in Krugersdorp, Gauteng maar woon vir die afgelope 26 jaar in die Weskus.

“Na skool wou ek bitter graag Natuurbewaring gaan studeer, maar in daai era was die persepsie dat jy in so ‘n beroep nie geld maak nie,” vertel hy.

Swanepoel wat ook ‘n kreatiewe kant het, het in die grafiese ontwerp bedryf sy eie besigheid gehad in sy geboortedorp en nadat hy verhuis het Weskus toe, met die besigheid voortgegaan.

Ongelukkig het die besigheid nie so goed gedoen as wat beplan was nie en hy dien tans die kliënte wat getrou by hom gebly het van sy huis in Velddrif af.

“Ek dink die Skepper weet wat Sy plan is met my en met geen formele opleiding leef ek my passie uit om Sy natuur te bewaar,” het Swanepoel vertel en genoem dat die passie omtrent 80% van sy dag opneem en as daar ‘n slang te vang is, ‘n voëltjie te redde is of ‘n diertjie is wat seergekry het, is hy ‘n oproep ver.

Sowat agt jaar gelede het Swanepoel op ‘n plaas in Elandsbaai gewerk waar ‘n kobra slang hom amper gepik het. Hy het kort daarna ingeskryf vir ‘n slanghanterings kursus by Exotic Animal World waar hy opgelei is hoe om alle soorte slange te vang en in hul natuurlike habitat vry te laat.

Hy het sy platform ‘Dwarskersbos Snake Rescue & Conservation’ geskep en is gewild in die Weskus as slanghanteerder en natuurbewaarder. Swanepoel is ook lid van die African Snakebite Institute en het ook ‘n wettige permit vir slanghantering en vrylating vanaf Cape Nature.

“Bewaring begin met opvoeding. Ek gebruik my sosiale media platform om almal te help om die belangrikheid van alle wilde lewende wesens te verstaan,” vertel hy.

Swanepoel is gevra om uit te brei oor die slange in die Weskus en het genoem dat die Kaapse kobra, Boomslang en Pofadder van die giftigste slange in die omgewing is. Tydens die slangseisoen wat strek van Augustus tot April, het hy reeds sowat 79 slange gevang.

“Slange hou van skuiling en koelte. Dit gebeur soms met onwikkelings dat slange gesteur word in hul natuurlike habitat en soek dan ‘n ander plek vir skuiling. Enige plek waar daar koelte, kos en water is, kan jy heel moontlik ‘n slang aantref.”

Vir die gemeenskap wat ‘n slang in hul huis of tuin gewaar, is Swanepoel se raad die volgende:
• Probeer, so veel moontlik om nie sig op die slang te verloor nie. Slange is rats en kan vinnig verdwyn.
• Kry jouself, familie en troeteldiere veilig.
• Moet nie self probeer om die slang te vang of te hanteer nie, skakel dadelik ‘n slanghanteerder.

Swanepoel het ook uitgebrei oor die teengif wat nodig is indien ‘n persoon gepik word. Hy het genoem dat teengif slegs deur mediese personeel toegedien moet word en dat noodnommers dus vinnig toegangklik moet wees indien iemand deur ‘n slang gepik word.

“Ek kan nie my passie uitleef vir natuurbewaring sonder die hulp van my netwerk nie,” het Swanepoel vertel en veral die personeel van Weskus Veeartseny Ing genoem en bedank.

Swanepoel is vir die laaste sewe jaar 24 uur aan diens vir sy gemeenskap en huiwer nie om selfs twee uur in die oggend uit te gaan as hy gekontak word om ‘n slang te vang of ‘n diertjie te red nie.

Hy het hande gevat met ander rolspelers en is in die proses om ‘n nie-winsgewende organisasie te skep: SWERF wat staan vir Sandveld Wildlife Educations Reservation Facility. ‘n NWO wat nie slegs op die vang van slange sal fokus nie, maar veral op die onderrig van natuurbewaring, want soos hy dit gestel het: “Without education there is no conservation”

Hy hoop om SWERF ook op internasionale standaard te kry.

So het ‘n seuntjie in laerskool se passie vir natuurbewaring by ‘n bloukop koggelmander begin en gestrek tot die drumpel van ‘n internasionle organisasie wat wil fokus om die Skepper se natuur en dier te bewaar. Kontak Ettienne Swanepoel by 082 066 3911 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article