Celba Wessels na haar terugkeer van ongevalle af waar sy vir 30 bytwonde behandel is.

Wat ‘n rustige oggendstappie moes wees, het vir die 79-jarige Celba Wessels in ‘n skokkende en traumatiese ervaring ontaard toe ‘n rob haar onverwags op die strand aangeval het.

Wessels, wat al 48 jaar in Dwarskersbos woon en daagliks met haar honde, Snowy en India, stap, het op 23 Maart omstreeks 07:30 soos gewoonlik vertrek, onbewus van die gevaar wat op haar wag.

Sy het aan Weslander vertel dat sy teen die hoër wal gestap het toe die rob skielik van die strand se kant af gekom en haar begin aanval het.

“Ek het alles probeer om hom weg te hou, ek het klippe gegooi en selfs ‘n bamboes gebruik om hom te slaan, maar hy het net aanhou byt,” vertel sy.

Volgens Wessels het die dier haar omgestamp.

“Die rob het my voete onder my uitgeslaan en ek het geval. Hy het toe see toe beweeg en ek kon weer regop kom. Net toe ek aan die sementbankie vashou en rondkyk vir my honde, het hy weer gekom, asof hy net nie wou ophou nie.”

In ‘n desperate poging om haarself te verdedig, het sy alles in haar vermoë gedoen.

“Ek het hom probeer keer op elke manier waaraan ek kon dink, selfs probeer wurg, maar niks het hom gekeer nie.”

Die skok van die aanval het haar diep geraak.

“Ek is eintlik ‘n kalm mens, maar toe hy my aanval, het ek geskree soos ‘n maer vark,” sê sy.

Haar gille het egter nie ongemerk verbygegaan nie. Sylvia en Massie Massyn, wie se huis oor die strand uitkyk naby die sementbankie waar die aanval plaasgevind het, het die noodkrete gehoor en onmiddellik na die toneel gehardloop. Daar het hulle Wessels met sowat 30 bytwonde aan haar liggaam aangetref.

Die Massyn-gesin het haar inderhaas na Vredenburg se ongevalle-afdeling geneem waar sy verskeie inspuitings ontvang het, onder meer teen hondsdolheid, ‘n ernstige risiko ná ‘n byt van ‘n wilde dier.

“Ek het al baie robbe in die vlak water gesien, maar nooit gedink hulle sal so ver land toe kom en boonop ‘n mens aanval nie,” het Wessels gesê.

Die plaaslike natuurbewaarder en slangvanger, Ettienne Swanepoel, is ontbied en het bevestig dat ‘n soortgelyke rob reeds die vorige dag as aggressief naby die swemstrand aangemeld is.

Ná die aanval is verskeie rolspelers, insluitend die polisie, CapeNature, die departement van bosbou, visserye en die omgewing, ‘n rob-spesialis en die

staatsveearts, na die toneel ontbied. Die rob is uiteindelik van kant gemaak en sal nou ondersoek word.

Swanepoel waarsku dat robbe onvoorspelbaar kan wees en dat strandgangers altyd ‘n veilige afstand moet hou. Enige gevaarlike wildlewe moet onmiddellik aangemeld word sodat kundiges die situasie veilig kan hanteer.

Ten spyte van die trauma en haar beserings het Wessels reeds die volgende dag weer haar honde vir ‘n stappie geneem.

“Ek het pyn en baie bytmerke, maar ek gaan nie ophou stap en die mooi van Dwarskersbos geniet nie,” sê sy vasberade.

Swanepoel kan by 082 066 3911 gekontak word.

Celba Wessels terug op die strand vir haar daaglikse stap met haar honde. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz
Celba Wessels wys die plek uit waar die rob haar aangeval het. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article