ST HELENABAAI – ‘n Inwoner van die Sandy Point Beach-landgoed het haar kommer uitgespreek oor toenemende honde-aanvalle in die gebied.
Volgens die inwoner is sy en haar hond in Mei deur rondloperhonde aangeval.
Sy meen herhaalde waarskuwings oor aggressiewe honde het nie tot voldoende optrede gelei nie.
Die voorval het tussen 10:00 en 10:30 plaasgevind terwyl sy met haar hond gestap het. Sy het pepersproei gebruik om haarself en haar hond te beskerm. Haar hond het beserings opgedoen.
Sy het die voorval later dieselfde dag by die polisie aangemeld en is na die Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV) verwys.
Volgens haar het sy ook die voorval by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se wetstoepassingsafdeling aangemeld en navraag gedoen oor vorige klagtes oor dieselfde honde.
Volgens Tereza Burger, ‘n SBM-woordvoerder, is slegs een vorige klagte oor die betrokke honde voor die aanval op Sondag 24 Mei op amptelike wetstoepassingsrekords aangeteken.
“Die vorige klagte is ondersoek en wetstoepassingsmaatreëls is toegepas soos deur die wet en munisipale diereverordening voorgeskryf,” het sy gesê.
Burger het bevestig dat ‘n boete ná die vorige voorval uitgereik is, maar het beklemtoon die bedrag van ‘n skulderkenningsboete word deur die wetgewende raamwerk bepaal.
Volgens Burger word elke klagte op sy eie meriete ondersoek en slegs sekere maatreëls wat deur wetgewing en verordeninge toegelaat word, word toegepas.
Sy het gesê die munisipaliteit kan slegs optree binne die bevoegdhede wat deur wetgewing bepaal word wanneer dit kom by die verklaring of verwydering van diere wat as gevaarlik beskou word.
Louise van Zyl, bestuurder van die Swartland- en Weskus-DBV, het hul simpatie met die eienaar van die beseerde hond uitgespreek en gesê sulke voorvalle is ontstellend.
Volgens Van Zyl val voorvalle waarby gevaarlike of aggressiewe honde betrokke is onder die afdwingingsbevoegdhede van die munisipale wetstoepassingsafdeling.
Sy het gesê klaers behoort ondersteunende bewyse soos veeartsenyverslae, foto’s, getuieverklarings en beëdigde verklarings aan die polisie en wetstoepassing te verskaf om ondersoeke te vergemaklik.
“Die DBV het geen wetlike bevoegdheid om diere bloot op grond van bewerings dat hulle gevaarlik of aggressief is, te verwyder of in beslag te neem nie, tensy gronde vir optrede ingevolge die reg bestaan en ‘n toepaslike hofbevel verkry is,” het Van Zyl gesê.
Sy het die publiek aangemoedig om soortgelyke voorvalle so gou as moontlik by die betrokke owerhede aan te meld.





