Tyson die pitboel.

Eienaar se hart breek oor ‘ meer as ‘n hond’


‘n Inwoner van Paternoster se hart is stukkend ná die verdwyning van sy geliefde hond.

Colin Davids se hond Tyson het vroeg in Februarie vanjaar uit sy erf verdwyn en is sedertdien nie weer gesien nie.

Ná vele soektogte moes Davids vrede maak dat hy nie weer sy hond gaan sien nie.

Volgens hom is hy later ingelig dat sy hond na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem is, wat weer sy hoop laat opvlam het.

Ná dié inligting het Davids die DBV by Vredenburg gekontak, maar is meegedeel dat die hond ongelukkig reeds aangeneem is.

Volgens Louise van Zyl, bestuurder van die Swartland- en Weskus-DBV, maak die gegewe tydsverloop en aantal rondloperdiere wat jaarliks by hulle aangemeld en opgeneem word dit tans onmoontlik om met sekerheid vas te stel na watter spesifieke hond verwys word.

“Die Swartland en Weskus-DBV tree as die aangewese skut namens die Saldanhabaai-munisipaliteit op. Alle rondloperdiere word hanteer ingevolge die toepaslike munisipale verordeninge en prosedures.

“Waar moontlik word daar gepoog om eienaars op te spoor en diere met hul eienaars te herenig. Dit bly vir ons ‘n belangrike prioriteit.

“Ons hou rondloperdiere ook vir langer as die minimum tydperk wat deur die toepaslike wetgewing vereis word, juis om eienaars ‘n redelike kans te bied om hul diere op te spoor en terug te eis,” voeg sy by.

Wanneer dit kom by diere wat reeds aangeneem is, benadruk Van Zyl dat die DBV nie persoonlike besonderhede bekend mag maak nie. “Elke saak word egter op sy eie meriete oorweeg, binne die raamwerk van die wet en ons verantwoordelikhede teenoor alle betrokke partye.”

Vir Davids voel dit asof een van sy kinders ontvoer is. “Tyson was nie net ‘n hond nie; hy was my maatjie. Ons het saam op die strand gaan stap, en hy het my altyd laat lag. Baie mense dink pitboele is gevaarlik, maar hy het die sagste geaardheid gehad. Hy het daarvan gehou om met ander honde én mense te speel.

“Ek was ongelooflik lief vir hom, en ek is nog steeds. Ek mis hom elke dag.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article