As jy al ooit gedink het om ‘n huis in die Weskus te koop, is dit nou die tyd met die lewendige eiendomsmark wat iets vir elkeen bied.
‘n Nuwe verslag deur dr. Clive Coetzee het die eerste ses maande van 2026 se huisverkope in vyf Weskus-dorpe ontleed. Die fokus was op gewilde drieslaapkamerhuise – die soort waarvan die meeste gesinne droom. Die syfers kom van Property24 en gee ‘n duidelike prentjie van wat regtig in die mark aangaan.
St. Helenabaai
As jy van sekerheid hou, is St. Helenabaai jou plek. Huise het deur die hele tydperk teen ‘n konstante gemiddeld van R3,3 miljoen verkoop. Geen verrassings nie en geen skielike prysstyging of -daling nie. Dit is ook waar die meeste huise vanjaar verkoop is – 362 huise teen einde Junie. Dit is meer as enige ander Weskusdorp in die verslag.
Langebaan
Langebaan is die duurste opsie, met huise wat gemiddeld teen sowat R4,2 miljoen verkoop. In April en Mei het huise skielik tot 9% goedkoper geword, voordat dit weer in Junie herstel het.
Saldanha en Velddrif
Saldanha se huispryse het geleidelik gestyg van R2,5 miljoen in Januarie tot R2,6 miljoen in Junie. “Dit is nie dramaties nie, maar dit groei bestendig – ideaal as jy wil sien dat jou belegging stadig maar seker waarde opbou,” glo Coetzee.
“Saldanha is besig om homself te vestig as ‘n ernstige speler in die Weskus-eiendomsmark – veral met die ontwikkeling om die hawe en nuwe infrastruktuur. Vir kopers beteken dit jy koop in ‘n dorp wat groei, maar nie teen kunsmatige hoë pryse nie,” het Coetzee gesê.
Velddrif het ‘n soortgelyke verhaal, met huispryse wat van R3 miljoen tot R3,1 miljoen gestyg het. Dit is ook waar die verkoopsyfers vinnig toegeneem het – ‘n teken dat meer mense skielik belangstel. “Velddrif lok veral gesinne en pensioentrekkers wat na ‘n rustiger leefstyl langs die Bergrivier op soek is, maar steeds binne bereik van groter dorpe wil wees.”
Coetzee meen die groei in beide hierdie dorpe is bemoedigend, want dit wys die mark is gesond en daar is werklike vraag na eiendom – nie net spekulasie nie.
Vredenburg
Met ‘n gemiddelde prys van sowat R2,3 miljoen is Vredenburg die goedkoopste van die vyf. Die pryse het effens geskommel, maar dit bly ‘n goeie keuse as jy op ‘n strammer begroting is. Vredenburg is die Weskus se hoofstad en het al die geriewe – hospitale, skole, winkels en meer. Vir gesinne wat in die Weskus wil woon, maar nie die hoë pryse van Langebaan kan bekostig nie, is Vredenburg ‘n praktiese keuse.
Wat opval, is dat die Weskus-eiendomsmark aan die beweeg is. Verkope het in die eerste helfte van 2026 toegeneem, met Februarie as ‘n besonder besige maand.
Of jy nou soek na stabiliteit (St. Helenabaai), waardestygings (Saldanha en Velddrif), bekostigbaarheid (Vredenburg) of prestige met ‘n bietjie risiko (Langebaan) – daar is iets vir jou.
• Dr. Coetzee is ‘n senior lektor by die fakulteit krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch.




