Etienne Laubscher op die water sowat vyf jaar gelede.

Geloof dra hom deur kankerstryd


Etienne Laubscher is ‘n bekende figuur aan die Weskus, veral vir sy betrokkenheid by kanovaart en die Weskus-kanowedvaartgemeenskap. Maar nege maande gelede het sy lewe skielik ‘n dramatiese wending geneem toe hy vir ‘n noodoperasie opgeneem is. “Ná die noodoperasie het die medici geen idee gehad of ek twee weke, twee maande of twee jaar oor het nie,” vertel hy.

Kort daarna het die diagnose gevolg: kolonkanker. ‘n Tweede groot operasie was nodig, terwyl dokters ook bekommerd was oor kolle wat op sy lewer gesien is.

Die maande wat gevolg het, was gevul met onsekerheid, behandeling en eindelose wagtye. Chemoterapie met twee potensieel toksiese middels, gereelde besoeke aan drie hospitale en verskeie klinieke, asook lang ure op die pad, het deel van sy daaglikse werklikheid geword.

Ten spyte van die uitdagings het hy bly vasklou aan sy geloof. “Maar nou, nege maande later, is ek deur die genade van God steeds hier,” sê hy.

Die goeie nuus het onlangs van Groote Schuur-hospitaal gekom. Volgens die jongste toetse en skanderings lyk dit asof sy lewer nie deur die kanker aangetas is nie.

Vir Laubscher is dié uitslag meer as net ‘n mediese mylpaal. “Baie dankie vir al jul gebede, besoeke, oproepe en ondersteuning. In die Weskus is ‘n mens nooit alleen nie.”

Hy vertel dat hy tydens sy behandeling by elke hospitaal iemand van die Weskus raakgeloop het – ‘n ervaring wat hom telkens aan die besondere omgee-gees van die streek herinner het.

“Ek is uit my hart uit dankbaar vir die gemeenskap se omgee-harte.”

Hoewel die nuus positief is, lê daar steeds ‘n lang herstelpad voor. Oor vyf maande wag opvolgtoetse, maar intussen fokus hy daarop om sy kragte stadig terug te kry.

Die herstelproses verg geduld. Sy buikspiere is tydens die operasies gesny, hy het nog nie sy armkrag teruggekry nie en die nagevolge van chemoterapie beïnvloed steeds sy gewrigte – veral in sy hande. “Ek voel soos ‘n beginner, maar ek is dankbaar dat ek weer in die water kan kom. Ek vat dit baie stadig.”

Hy kan reeds weer liggies fiets ry en het begin terugkeer na die water, hoe­wel hy nog nie gereed is om op sy vorige vlak te roei nie.

Vir hom is elke klein tree vorentoe ‘n oorwinning.

Terwyl hy verder aansterk, bly hy dankbaar vir elke nuwe dag – ‘n bewys van die krag van geloof, volharding en ‘n gemeenskap wat sy mense dra wanneer hulle dit die nodigste het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 25 June 2026
    Weslander E-Edition – 25 June 2026

Gift this article