Wanneer mense aan dieremishandeling dink, dink hulle dikwels aan ernstige gevalle van fisieke geweld.
Tog is verwaarlosing een van die algemeenste vorms van dierelyding, en dit gebeur dikwels reg onder ons neus.
Verwaarlosing beteken nie noodwendig dat iemand doelbewus wreed is nie. Dit gebeur wanneer nie in ‘n dier se basiese behoeftes voorsien word nie, hetsy deur onkunde, nalatigheid of ‘n gebrek aan hulpbronne. Die gevolg bly egter dieselfde: die dier ly.
Elke troeteldier benodig voldoende kos, skoon drinkwater, veilige skuiling, mediese sorg en aandag. Wanneer een of meer van hierdie behoeftes oor ‘n lang tydperk nie bevredig word nie, word die dier verwaarloos. Aangesien dit dikwels geleidelik gebeur, gaan die waarskuwingstekens maklik ongesiens verby.

Een van die duidelikste tekens is wanneer ‘n dier voortdurend maer of ondervoed lyk. ‘n Hond of kat se ribbes behoort nie opvallend uit te steek nie. ‘n Dier wat gereeld honger voorkom, deur vullis snuffel of lusteloos is, kry moontlik nie genoeg voeding nie.
Water is net so belangrik. Veral gedurende warm weer kan diere vinnig uitdroog as daar nie vars drinkwater beskikbaar is nie. ‘n Leë of vuil waterbak is dikwels ‘n waarskuwingsteken. Selfs in die winter benodig troeteldiere daagliks toegang tot skoon water.
Skuiling speel ook ‘n belangrike rol. In die Weskus se winterreën en koue wind kan diere vinnig siek word sonder beskerming teen die elemente. Net so kan uiterste hitte ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak. ‘n Dier wat voortdurend aan die weer blootgestel word, ervaar verwaarlosing.
Gebrek aan mediese sorg is nog ‘n algemene probleem. Siektes en beserings kan dikwels behandel word indien dit vroeg raakgesien word. Oop wonde, velprobleme, infeksies of mankheid behoort nooit geïgnoreer te word nie.
Verwaarlosing raak ook ‘n dier se emosionele welstand. Honde en katte het sosiale kontak, aandag en stimulasie nodig. Diere wat voortdurend alleen gelaat word, kan angstig, gefrustreerd of selfs aggressief raak.
Die goeie nuus is dat verwaarlosing dikwels voorkom kan word. Opvoeding, beplanning en verantwoordelike troeteldiereienaarskap maak ‘n groot verskil. Gemeenskappe kan ook help deur op waarskuwingstekens te let en ondersteuning of advies aan te bied waar nodig.
Verwaarlosing begin selde oornag. Dit ontstaan dikwels uit klein dinge wat afgeskeep word totdat die dier uiteindelik swaarkry of ly. Ons moet liefs daarteen waak.





