HOPEFIELD – Die gebied waar ’n omstrede R47 miljard-groenwaterstof- en volhoubare lugvaartbrandstofprojek beplan word, het volgens ’n botanis buitengewoon hoë plantdiversiteit en ’n groot aantal bedreigde plantspesies.
Wat volg, is ’n opsomming van Barry Christianson se ondersoek namens Oxpeckers Investigative Environmental Journalism na die moontlike omgewingsimpak van die projek, “Hope for green hydrogen in the balance”, wat op 28 Augustus gepubliseer is.
Botanis Nick Helme het aan Christianson gesê die Hopefield-gebied is besonders omdat twee groot plantegroeistelsels hier bymekaarkom: Aan die westekant is sandfynbos op diep, suur sand, terwyl kleigebaseerde plantegroei wat met die Swartland se renosterveld verband hou, oos van Hopefield voorkom.
“Die gebied rondom Hopefield dien as ’n ekologiese oorgangsone,” het Helme gesê.

Volgens hom het die Theewatersvlei-gedeelte van die voorgestelde sonkragontwikkeling ongeveer twee keer soveel plantdiversiteit as wat normaalweg vir ’n gebied van dié grootte verwag sou word.
Sowat 25 bedreigde plantspesies is reeds in die groter projekgebied geïdentifiseer.
Die gebied sluit ook Piketberg-kwarts-sukkulentestruikveld in, ’n unieke, droë habitat wat langs die Sout-rivier voorkom. “My beoordeling is dat dit ’n hoë negatiewe botaniese impak sal hê,” het Helme gesê.
Hy het bevraagteken waarom die ontwikkeling nie eerder op reeds gedegradeerde grond oos van Hopefield gevestig kan word nie. “Skuif hierdie ding 20 km ooswaarts na die erg gedegradeerde Swartland-stelsel, en jy het geen omgewingskwessies nie,” het hy gesê.
Mark Botha, ’n omgewingskundige wat in grondbeskerming en bewaringstrategie spesialiseer, het ook die ligging bevraagteken. “Hoe maak jy waterstof groen deur dit op ’n onontwikkelde gebied te plaas en biodiversiteit te vernietig?” het hy gevra.
Phelan reageer
Phelan Green Energy het intussen vir die eerste keer breedvoerig op die bekommernisse oor die projek gereageer.
Anthea Abraham, hoof van kommunikasie by Phelan Green Energy, het aan Christianson gesê die Hopefield-terrein is ná verskeie terreinondersoeke en regulatoriese vereistes as die “beste moontlike ligging” geïdentifiseer.
Volgens haar is biodiversiteit reeds as ’n belangrike aspek van die aanvanklike omgewingsimpakstudies geïdentifiseer.
CapeNature het as kommenterende owerheid verdere biodiversiteitsondersoeke en inligting versoek. Hierdie spesialisstudies word tans gedoen om moontlike impakte en maatreëls om dit te versag, te bepaal.

Miljoene liter water
Die projek se waterverbruik is ook onder die soeklig. Volgens nuwe syfers kan die aanleg teen volle produksie sowat agt miljoen liter drinkbare water per dag gebruik.
Abraham het gesê die eerste fase sal twee miljoen liter water per dag benodig, wat deur die Saldanhabaai-munisipaliteit voorsien sal word.
Langtermyn-watervoorsiening sal na verwagting onder meer deur ontsouting en die verwydering van indringerplante aangespreek word.
Sy het gesê die aanleg is ontwerp as ’n nul-vloeistofafvoerfasiliteit, wat beteken dat proseswater sover moontlik herwin en hergebruik sal word.
Plaaslike hotelier Jacques van der Westhuizen, wat ook by die jaarlikse Hopefield-fynbosskou betrokke is, is egter bekommerd oor moontlike gevolge vir grondwater en nabygeleë waterlope.
Die voorgestelde waterstofaanleg sal sowat 800 meter van die Soutrivier wees. Die rivier vloei later in die Bergrivier en uiteindelik die see.
Van der Westhuizen waarsku dat besoedeling ondergronds of bogronds gevolge verder as Hopefield kan hê. “Besoedeling van die ondergrondse akwifeerstelsel kan die Langebaan-strandmeer beïnvloed,” het hy gesê.
Die Langebaan-strandmeer en Bergrivier is albei Ramsar-terreine, wat beteken dat hulle as vleilande van internasionale belang erken word.
Hidrogeoloog Dale Barrow van GEOSS, wat deur Phelan aangestel is om die volhoubaarheid van die projek se waterbehoeftes te ondersoek, het gesê die ondergrondse akwifeerstelsel is kompleks en dat die moontlike impakte met die huidige inligting “moeilik voorspelbaar” is.
Inwoners bekommerd oor omvang
Volgens Van der Westhuizen het inwoners die omvang van die ontwikkeling eers geleidelik besef.
Die sonkragkomponent alleen sal na verwagting meer as 3 000 hektaar beslaan. “Toe ons die konsep-omvangsbepalingsverslag sien, het ons besef hoe groot die projek is,” het hy gesê.
Later het inwoners uitgevind dat die ontwikkeling nie net sonkrag behels nie, maar ook ’n waterstofaanleg, biomassa-aanleg en windkragkomponent. “Elke keer ontdek ons dat daar nog ’n komponent is. Ons weet nie wat die volle omvang van die projek is nie,” het hy gesê.
Volgens Phelan word die verskillende komponente afsonderlik hanteer omdat dit verskillende tegniese en regulatoriese vereistes het.
Volgens Abraham kan sowat 2 500 werksgeleenthede tydens die meer as vyfjaar-lange konstruksiefase geskep word, met sowat 500 permanente bedryfs- en instandhoudingsposte wanneer dit ten volle in werking is.
Die projek sal na verwagting teen 2032 voltooi wees en volgens Phelan 140 000 ton volhoubare lugvaartbrandstof per jaar vir uitvoer na Europa produseer.





You must be logged in to post a comment.