Van links is Bazier Birch, Kamile Allie, Danie van Zyl, Gert Hibbert en Derek Breytenbach, lede van die gekombineerde Weskus- en Ikapa-span, wat die 2026- Suid-Afrikaanse 8-bal-Grootmeester-spantitel in Potchef­stroom gewen het. Allie het ook die nasionale enkelspelkampioenskap gewen, met Hibbert die naaswenner.

Weskussers wen SA 8-bal

Van links is Bazier Birch, Kamile Allie, Danie van Zyl, Gert Hibbert en Derek Breytenbach, lede van die gekombineerde Weskus- en Ikapa-span, wat die 2026- Suid-Afrikaanse 8-bal-Grootmeester-spantitel in Potchef­stroom gewen het. Allie het ook die nasionale enkelspelkampioenskap gewen, met Hibbert die naaswenner.

WESKUS – ‘n Gekombineerde Weskus- en Ikapa-span het verlede week as die nuwe Suid-Afrikaanse 8-bal-grootmeesterskampioene van die nasionale potspelkampioenskap in Potchefstroom teruggekeer.

Die kampioenskap is van 20 tot 27 Junie beslis.

Volgens Gert Hibbert het die span regdeur die toernooi goed gespeel, met Kamile Allie wat die nasionale enkelspeltitel gewen het en Hibbert wat as naaswenner geëindig het.

In die spankompetisie het die span ‘n moeilike halfeindronde teen die titelhouer, Sentraal-Gauteng, beleef. “Dit was ‘n knap en mededingende wedstryd, maar die Weskus- en Ikapa-spelers het kalm gebly en met 13-10 gewen om hul plek in die eindstryd te verseker,” het Hibbert gesê.

‘n Onoorwonne Kaapse Wynlande-span het in die eindstryd op hulle gewag, maar die Weskus-span het een van sy beste vertonings van die toernooi gelewer en die eindstryd met ‘n oortuigende 13-6-oorwinning oorheers om die 2026- Suid-Afrikaanse 8-bal-grootmeester-spantitel te verower.

Hibbert het gesê die oorwinning is nogal iets groots as jy aan al die uitdagings dink.

“Die Weskus het slegs ‘n handjievol geregistreerde spelers by Pool Suid-Afrika en moet teen streke met honderde lede wat weekliks in toernooie speel, meeding,” het hy vertel.

Die span se voorbereiding was ook nie maklik nie.

“Weskus-spelers moet alleen oefen op ‘n tafel by elkeen se huis. Ek oefen in St. He­lenabaai, Derek Breytenbach in Yzerfontein, Danie van Zyl in Blouberg, Kaapstad, terwyl Kamiele Allie en Bazier Birch in die Mitchell’s Plain-liga speel,” het Hibbert verduidelik. “Ek oefen vier dae per week op my eie, en Woensdae speel ek in ‘n klein georganiseerde liga op die Weskus,” het Hibbert bygevoeg.

Oor die druk van só ‘n kompetisie het Hibbert gesê dit is geweldig. “Jy kry gewoonlik net een kans in ‘n wedstryd teen jou teenstander. Al die topspanne het twee tot drie Protea-spelers in ‘n vyfmanspan.”

Allie en Hibbert se prestasies wys hoe hoog die gehalte van potspel in die Weskus is. “Ons is tans as die topspelers in die land gekeur. Ons het verskeie titels oor die laaste 20 jaar teen die beste spelers in SA verwerf. Ons het die SA spankompetisie al sewe keer in verskeie ouderdomsafdelings gewen, en ook al ses enkelspeltitels,” het Hibbert met trots gesê.

Oor die oorwinning teen die Kaapse Wynlande in die eindstryd, het Hibbert gesê die sleutel tot hul sukses lê in elke lid van die span se samespel en ondersteuning aan hul spanmaats.

Vir jong spelers wat droom om eendag op nasionale vlak te speel, het Hibbert ‘n bemoedigende boodskap: “Daar is oneindig baie geleenthede vir jong spelers. As jy bereid is om die tyd op die tafels in te sit en jouself geestelik voorberei, kan jy groot sukses behaal.”

Hy het as voorbeeld genoem dat die SA o.14-juniors in 2025 in Ierland tweede in die wêreldkampioenskap was. Hulle het naelskraaps met een punt verloor.

“Die dubbele sukses in beide die enkel- en spanbyeenkomste was ‘n onvergeetlike week vir die spelers en wys die gehalte van pool-talent in die Weskus- en Ikapa-streke,” het Hibbert gesê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article