HOPEFIELD – “As die Weskus se oudste dorp het dit ‘n ouwêreldse atmosfeer, omring deur delikate fynbos en groen koringlande in die winter. Dié historiese dorp spog met ‘n natuurlike fynbosuitstalling wat besoekers en plantliefhebbers bekoor. Met meer as 500 fynbossoorte is dit ‘n Eden vir blomliefhebbers en botaniste …”
Dié lofgesang vir die dorp Hopefield verskyn op die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se amptelike webwerf. Dit is dieselfde DA-beheerde plaaslike regering wat waarskynlik binnekort ‘n deurslaggewende rol gaan speel in die bewaring van dié skatkis van blommeprag en inheemse kultuurerfenisse – ‘n erfenis wat nou, volgens inwoners en omgewingsaktiviste, deur ‘n omstrede multimiljardrand brandstof- en reuse-sonkragaanleg bedreig word.

Die SBM is die regeringsvlak wat grondgebruiksgoedkeuring, en dus die groen lig, vir projekte soos dié moet gee.
‘n Gemeenskapsvergadering is verlede week in die dorp gehou, en verskeie bekommerde inwoners het in ‘n volgepakte NG kerksaal een ná die ander na vore getree met duidelike boodskappe aan die ontwikkelaars:
“Ons benodig ontwikkelings en werkskepping, maar nie dié soort nie. Ons kan hulle nie vertrou nie. Hulle is nie eerlik en openlik met wat hulle uiteindelik beoog nie.”
“Die regering het klaar besluit die projek gaan voort. Ons gaan hulle nie met die reg kan keer nie.”

Die vergadering is deur die Weskus-omgewingsbewaringsassosiasie (Woba) gereël. Mense van Langebaan, Vredenburg, Velddrif, Moorreesburg en Yzerfontein het dit bygewoon. Woba sal binnekort datums bekendmaak vir nóg vergaderings in verskeie Weskusdorpe.
Openbare teenstand neem stelselmatig toe. Die Khoi-San Cochoqua-erfenisbewaringsliggaam het reeds geëis dat omgewings- en erfenisprosesse onmiddelik opgeskort word en dat die openbare-deelnameproses heropen word.
Rooi ligte flikker
Intussen hoop meer vrae op oor presies wát die uiteindelike omvang van die projek is, terwyl kenners en inwoners meen rooi ligte flikker oor die ontwikkeling se openbaredeelnameprosesse, beloftes van werkskepping en moontlike politieke inmenging op alle regeringsvlakke.
Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstofverwerkingsaanleg van byna R50 miljard vir die vervaardiging van tonne elektries volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat per pad na die Saldanhahawe vervoer sal word vir uitvoer na onder meer Europese lande. Die voormalige burgemeester van die SBM, André Truter, wat intussen Hopefield toe verhuis het, is in ‘n senior bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.
‘n Bestuurskonsultant in Hopefield, Kathy Lewis, het ‘n evaluering gedoen van die Maatskaplike Impakstudie (SIA) wat deur konsultante vir die projek saamgestel is. Sy was een van die sprekers op verlede week se vergadering.
Volgens Lewis wek die wyse waarop die openbaredeelnameproses gevoer word, nie vertroue nie. “Die Phelan-groep het reeds kennisgewingborde opgerig en is besig om masjinerie en toerusting na die terrein te verskuif. Terselfdertyd maak dit op verskeie mediaplatforms verklarings oor die projek, insluitend ooreenkomste wat met vennote onderteken word op geleenthede waar verteenwoordigers van die nasionale regering teenwoordig is. Dit wek die indruk dat die maatskappy moontlik voorafversekering ontvang het dat al die nodige goedkeurings toegestaan sal word.”
Lewis meen die projek se Maatskaplike Impakstudie (SIA), gedateer Januarie 2025, is duidelik die produk van ‘n lessenaarstudie. Die verslag verklaar dat die volgende stap konsultasies met sleutelbelanghebbendes sal behels.
“Byna 18 maande later het hierdie konsultasies steeds nie plaasgevind nie. Die data in die SIA-basislynstudie verskaf nie ‘n huidige profiel van die dorp se bevolking waarteen die toekomstige maatskaplike en ekonomiese impak gemeet kan word nie. Na my mening is die ‘bevindings’ veralgemeen en vaag, en daarom skaars geloofwaardig binne die konteks van Hopefield.”
Borde staan al
Lewis meen dit is ondenkbaar dat ‘n maatskappy van Phelan Green se omvang nie oor spesifieke inligting beskik oor die aantal poste en vaardigheidsprofiele wat vereis word nie. “Waarom word hierdie inligting nie bekend gemaak wanneer werkskepping as ‘n primêre motivering aan die plaaslike gemeenskap voorgehou word nie?”
Weslander het die terrein buite Hopefield besoek. Hoewel verskeie noodsaaklike wetlike prosesse steeds nie afgehandel is nie en omgewingsmagtigings uitstaande is, pryk kennisgewingborde reeds by die terreiningang.
Die projekte het ook reeds kommer en onsekerheid in die dorp se eiendomsmark begin saai. Volgens ‘n beswaarde inwoner het die beplande projek veroorsaak dat ‘n moontlike eiendomstransaksie van sy broer skipbreuk gely het. “‘n Voornemende koper het besluit om nie in Hopefield te koop nie omdat hy gehoor het van die projek. Wie wil werklik na die platteland verhuis om langs ‘n sonkrag- of waterstofaanleg te woon?”
Hoekom Hopefield?
Dit is die vraag wat gereeld opduik wanneer die omstrede waterstofaanleg en sonkragaanleg deur Weskusinwoners bespreek word. ‘n Omvattende studieverslag van byna 100 bladsye, “West Coast Green Hydrogen Master Plan (Phase 1)”, is in Februarie 2026 uitgereik, saamgestel deur die Wes-Kaapse regering, WNNR en Freeport Saldanha. Een van die verteenwoordigers in die werkgroep was Phelan Green Energy.
Die studieverslag moes dien as ‘n meesterplan vir die vestiging van die Saldanha-waterstofspilpunt. Volgens dié meesterplan was die Saldanha Freeport by Saldanha, vlak langs die hawe, egter destyds geoormerk vir die projek se kernbedrywighede. Die verslag verwys nêrens na Hopefield as die voorkeurgebied vir die vestiging van ‘n multimiljardrand-waterstofaanleg nie.
Weslander het die SBM vir kommentaar genader en ‘n omvattende lys vrae gestuur oor die SBM se bewustheid van en betrokkenheid by die projekte, die munisipaliteit se standpunt en goedkeuringsprosesse, die rol van die voormalige burgemeester, en ‘n memorandum van verstandhouding wat in Oktober 2022 onderteken is. Geen erkenning van ontvangs óf antwoorde op Weslander se vrae is egter ontvang nie.
Volgens Nicola Viljoen, die voorsitter van Woba, sluit die kommentaarperiode vir die watergebruikaansoek (Wula) volgende Maandag (6 Julie). Sy sê Woba het die projekkonsultant, WSP, al twee keer gevra vir ‘n afskrif van die Wula, maar het dit nog steeds nie ontvang nie.
Registreer nou as rolspeler
Volgens Woba is die finale Konsep-Omvangsverslag vir die waterstofaanleg wél deur WSP beskikbaar gemaak. Die publiek kan nog steeds registreer as ‘n belanghebbende en geaffekteerde party om kommentaar te lewer op die omgewingsimpakbeoordelings:
• Waterstofaanleg en eSAF – pp@wsp.com
• Wula – pp@wsp.com
• Sonkragaanleg – percy@ecocompliance.co.za





You must be logged in to post a comment.